Sexton hoor binnekort sy lot

Ierland se Jonny Sexton (Maart 2022) (Foto: Glyn Kirk/AFP)

Johnny Sexton se lot sal binnekort bekendgemaak word ná ʼn tugverhoor van ses uur. Die kaptein van Ierland is in die sop ná sy uitbarsting in die Kampioenebeker-eindstryd tussen Leinster en La Rochelle in Dublin.

Die Franse klub het toe met ʼn merkwaardige terugvegpoging vorendag gekom om die Ierse reuse met 27 – 26 in ʼn dramatiese wedstryd op die Aviva-stadion te klop.

Hoewel ʼn liesbesering Sexton se Leinster-loopbaan ná 189 kragmetings vir die klub kortgeknip het, het hy steeds die eindstryd bygewoon. Kort nadat die eindfluitjie geblaas het, het hy al swetsend sy vinger in die rigting van skeidsregter Jaco Peyper geswaai.

Die 37-jarige losskakel was ook tydens rustyd in ʼn onderonsie met La Rochelle se Ronan O’Gara (hoofafrigter) en Will Skelton (slot) betrokke.

Die tugkomitee sal nou eers sy beslissing privaat aan Sexton bekend maak voordat ʼn amptelike verklaring uitgereik sal word.

Ierland speel sy eerste opwarmingswedstryd op 5 Augustus teen Italië terwyl die span se Wêreldbeker-veldtog amptelik op 9 September teen Roemenië begin.

ʼn Skorsing kan dus ʼn definitiewe invloed op sy voorbereiding en selfs deelname aan die toernooi hê.

Baie rugbyliefhebbers meen dat Sexton-hulle die gunstelingspan is om die Webb Ellis-trofee omhoog te hou, tog glo Schalk Brits dat hul gesukkel in Wêreldbeker-situasies teen hulle tel.

Ierland kon nog nooit verder as die kwarteindstryd by die internasionale uitkloptoernooi vorder nie.

“Ierland is ʼn vreemde rugbygeval. Hulle het nog altyd uitstekende spel in die tydperk tussen die Wêreldbeker-toernooie opgedis, maar sodra dit Wêreldbeker-tyd is, is dit ʼn ander storie,” het die voormalige Springbok gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.