Sexton swaai vinger vir Peyper

Jaco Peyper het vir Michael Ala’alatoa met ’n rooi kaart van die veld gestuur. (Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP)

Nie almal was tevrede met die wyse waarop Jaco Peyper die Kampioenebeker-eindstryd tussen Leinster en La Rochelle hanteer het nie.

Die Franse klub het met ʼn merkwaardige terugvegpoging vorendag gekom om die Ierse reuse met 27 – 26 in ʼn dramatiese wedstryd op die Aviva-stadion in Dublin te klop.

Die aksie het egter ook ná die eindfluitjie geblaas het voortgeduur toe ʼn ontstoke Johnny Sexton sy vinger in die Suid-Afrikaanse skeidsregter se rigting geswaai het.

Die 37-jarige Ierland-kaptein is ʼn legende in Dublin, maar ʼn liesbesering het sy Leinster-loopbaan kortgeknip. Hy het 189 wedstryde vir die klub gespeel.

Sexton was ook tydens rustyd in ʼn onderonsie met La Rochelle se Ronan O’Gara (hoofafrigter) en Will Skelton (slot) betrokke.

Die European Professional Club Rugby (EPCR) het gesê dat hy bewus is van die voorval en dat hy ondersoek sal instel.

Volgens die Irish Independent moet Sexton nou angstig wag vir Peyper se verslag oor die gebeure. Hy is weer op 19 Junie terug op die oefenveld saam met Ierland en hy sal nie enige van die nasionale span se Wêreldbeker-voorbereidingswedstryde wil misloop nie.

Veral nie omdat hy geskors is nie.

Peyper, wat die eerste Suid-Afrikaanse skeidsregter geword het om die fluitjie in ʼn Kampioenebeker-eindstryd te blaas, moes ook ʼn paar groot beslissings maak.

Hy het onder meer vir Ronan Kelleher en Jonathan Danty met geel kaarte van die veld gestuur, maar Michael Ala’alatoa se rooi kaart in die laaste paar minute van die kragmeting was die laaste spyker in Leinster se doodskis.

Leinster het vir die laaste twee minute van die wedstryd op La Rochelle se doellyn geboer. Hulle is egter van alle momentum beroof toe Ala’alatoa met ʼn swierlike skouerduikslag vir Georges-Henri Colombe uit die pad wou kry.

Dan maak baie plaaslike ondersteuners hom ook die sondebok vir die Iere se gesukkel om veral in die tweede helfte uit hul halfgebied te kom.

Volgens amptelike statistiek het Peyper 12 keer sy fluitjie teen Leinster geblaas, terwyl hy La Rochelle agt keer gestraf het.

Wanneer jou span egter ʼn voorsprong van 17 punte wegsmyt, kan die skuld sekerlik nie net voor die skeidsregter se deur geplaas word nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Snuffelgids ·

Ek het die finaal geniet. Jaco jy het uitstekend gedoen onder erge druk, dis hoekom jy sekerlik die wêreld se beste is. Baie geluk op n puik vertoning. Ek dink nie daar is veel twyfel oor die rooi kaart nie, sterkte aan die speler wat bewusteloos was en moes afgedra word

B-Man ·

Daardie rooikaart is verdien!! Sexton moet eerder vir Ala’alatoa aanspreek. Daardie man het hulle die wedstryd gekos.

George ·

Nou is die Saffas aan die ref se kant, ek kan jou belowe as presies dieselfde TEEN die stormers komende naweek gebeur, eis julle die ref se kop.

Roek ·

Dit was nie net Jaco se besluit nie , al die refs het saam besluit , van waneer af kyk julle Rugby ? Word ‘n bietjie wakker !!!

Boer ·

Voor die rooi kaart het Leinster ‘n strafskop gekry hulle het gekies om die bal uit te skop en nie te gaan vir die palle nie. Dit is waar alles vir Leinster verkeerd
geloop het. Die rooi kaart het die TMO ook herhaldelik vir Jaco gese dit is ‘n High level of danger wat plaas gevind het. So my siening is hulle moet maar die man wat die rooi kaart gekry het die skuld gee omdat hulle verloor het. Laaste ek hoop Sexton word sommer vir ‘n jaar geskors en dit sal die Iere bietjie knak voor die wereld beker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.