Sharks glo ʼn goeie lopie is om die draai

Ox Nche is in die Sharks se opdrafspan vir die wedstryd teen die Lions in Durban. (Foto: GB Jordaan)

Die Sharks mag dalk nog net een wedstryd in hul jongste Verenigde Rugbykampioenskap-veldtog gewen het, maar die spelers glo ʼn goeie lopie is om die draai.

Volgens die blitsige Grant Williams is die spelers oorgehaal om Saterdag se wedstryd teen die Lions op Kingspark te wen.

Die Durbaniete het verlede naweek met 16 – 15 teen die Stormers in Kaapstad verloor, maar die span se Springbok-skrumskakel meen dat hulle nou gereed is om op alle suiers teen die Johannesburgers te vuur.

“Ja, verlede week se kragmeting teen die Stormers was frustrerend; ons kon immers die wedstryd gewen het. Maar ons is beslis meer positief en ons kan nou ʼn vertoning teen die Lions lewer waarop ons ondersteuners trots is,” het Williams gesê.

“As ʼn span is ons baie naby daaraan om te speel soos wat ons graag wil.”

Die Lions sal egter allesbehalwe kanonvoer wees. Die Gautengse span speel deesdae met hernieude vuur en passie – soos wat hul sewe bonuspunte in die reeks getuig.

“Hulle is ʼn fisieke span wat daarvan hou om die bal lekker lug te gee, terwyl hul voorspelers ook vir niemand terugstaan nie,” het Williams gewaarksu.

Die Sharks het ʼn sterbelaaide span gekies. Benewens Williams sluit die span ook ander Springbok-sterre soos Lukhanyo Am, Makazole Mapimpi, Ox Nche en Eben Etzebeth in.

“Die afgelope paar weke het ons ’n tree in die regte rigting gegee. Ons is beslis nou sterker.”

Die wedstryd begin Saterdag om 17:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Sharks: Aphelele Fassi (heelagter), Werner Kok (regtervleuel), Lukhanyo Am (kaptein en buitesenter), Francois Venter (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Curwin Bosch (losskakel), Grant Williams (skrumskakel), Phepsi Buthelezi (agtsteman), Jeandré Labuschagne (flank), James Venter (flank), Gebrandt Grobler (slot), Eben Etzebeth (slot), Hanro Jacobs (stut), Fez Mbatha (haker) en Ox Nche (stut). Plaasvervangers: Kerron van Vuuren, Ntuthuko Mchunu, Joel Hintz, Corné Rahl, George Cronje, Jaden Hendrikse, Boeta Chamberlain en Rohan Janse van Rensburg.

Lions: Quan Horn (heelagter), Richard Kriel (regtervleuel), Hencu van Wyk (buitesenter), Marius Louw (binnesenter en kaptein), Edwill van der Merwe (linkervleuel), Sanele Nohamba (losskakel), Morné van den Berg (skrumskakel), Francke Horn (agtsteman), Ruan Venter (flank), Emmanuel Tshithuka (flank), Darrien Landsberg (slot), Ruben Schoeman (slot), Asenathi Ntlabakanye (stut), PJ Botha (haker) en JP Smith (stut). Plaasvervangers: Jaco Visagie, Morgan Naude, Ruan Smith, Reinhard Nothnagel, Hanru Sirgel, JC Pretorius, Jordan Hendrikse en Rynhardt Jonker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.