Sharks klop Bulls uiteindelik weer

Dit was nie ‘n vertoonvenster vir rugby nie, maar die Sharks het die Bulls vir die eerste keer in jare weer geklop. S’bu Nkosi was een van die Sharks se puntemakers. (Foto: The Sharks/Twitter)

Kyk, dit was nou hoegenaamd nie ’n vertoonvenster vir die soort rugby wat weer ondersteuners na die stadions gaan teruglok nie, maar die Sharks het gisteraand vir die eerste keer sedert 2014 die Bulls in ’n Superrugby-kragmeting geklop toe hulle met 23–15 in Durban gewen het.

En in ’n klipharde skop-fest moes jy tot die 78ste minuut wag om ’n lekker drie te sien: Die Sharks se plaasvervanger-skrumskakel, Sanele Nohamba, het soos ’n wafferse akrobaat oorgeduik om die wedstryd finaal buite die Pretorianers se beheer te plaas.

Die telling was in dié stadium 16–15 in die Durbaniete se guns.

Vir die Bulls het Morné Steyn sy eerste Superrugby-wedstryd in sewe jaar gespeel en sy ondersteuners het hom waarskynlik na Koning Midas herdoop. Want die meeste dinge waaraan die 35-jarige losskakel gevat het, het in goud vir die Bulls verander.

Met sy eerste afskop van die wedstryd het hy ’n strafskop vir die Bulls bewerkstellig en hy het terstond dié stelskop deur die pale gejaag, terwyl sy klipharde duikslag op ’n vlieënde Aphelele Fassi ’n definitiewe Sharks-drie in die kiem gesmoor het.

O ja, dan was daar ook ’n skepskop en drie ander suksesvolle strafskoppe op die spyskaart; hy was vir ál die Bulls se punte verantwoordelik.

Maar een veteraan-swaeltjie maak nie noodwendig die somer nie en die Bulls sal beslis hul sokkies moet optrek indien hulle êrens in die toernooi wil kom. Hulle sal definitief hul balhantering moet verbeter, terwyl Embrose Papier ook meer wedstrydtyd verdien.

Die Sharks het op hul beurt ook in die tradisionele Suid-Afrikaanse slaggat van besitwegskop getrap, maar hulle het darem gesorg dat hulle munt uit die Bulls se flaters slaan.

S’bu Nkosi het ’n opportunistiese drie gedruk nadat die Bulls se Rosko Specman die bal om die een of ander onverklaarbare rede óp sy doellyn laat bons het. Soos wat Naas Botha heel tereg sê: ’n Bal wat bons is enigeen se bal en Nkosi het dié onverwagse geskenk met ope arms verwelkom.

Dan het James Venter darem ’n paar goeie dinge op die grond gedoen om afrigter Sean Everitt se vertroue in hom te regverdig.

Die Sharks speel volgende week teen die Highlanders in Dunedin, terwyl die Bulls die Stormers in Kaapstad pak.

  • Puntemakers:

Sharks: Drieë: S’bu Nkosi en Sanele Nohamba. Doelskoppe: Curwin Bosch (2). Strafskoppe: Bosch (3).

Bulls: Strafskoppe: Morné Steyn (4). Skepskop: Steyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jr ·

Ja en ek kon dit nie kyk te danke aan die cANCer society en hulle krag onderbreekings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.