Sharks trek Edinburgh se tande

Die Sharks het Edinburgh met 23-13 geklop. (Foto: X/ Edinburgh Rugby)

Die Sharks kan die groot pretbederwers in die res van die seisoen se Verenigde Rugbykampioenskap wees. Dít het die Sharks Saterdagmiddag op Kingspark in Durban gewys toe hulle Edinburgh met 23-13 geklop het.

Die Sharks se oorwinning is ʼn nagmerrie vir Edinburgh wat verlede week deur die Stormers geklop is en nie een bonuspunt op sy toer van twee wedstryde verdien het nie. As Edinburgh nie gou weer wen nie, kan hul drome om tussen die top agt te eindig daarmee heen wees.

Dit was die Sharks se tweede opeenvolgende oorwinning in die reeks nadat hulle verlede Saterdag ʼn oorwinning oor Ulster behaal het.

Die Sharks het Saterdag heeltemal oorheers en moes baie verder gewen het, asook ʼn bonuspunt vir vier drieë behaal het. Maar die heel belangrikste vir hul plaaslike ondersteuners is dat hulle weer aan die wenkant is, dat die selfvertroue nou terugkeer en wenmomentum opgebou word.

Kom ons wees eerlik, die Sharks is nog nie die volmaakte produk van hul topspanne van die verlede nie, maar die vertonings van Aphelele Fassi, Makazole Mapimpi, Werner Kok en Lukhayno Am (agterlangs), asook die hoë werkverrigting van Ox Nche, Emile van Heerden en James Venter (voorlangs) moes baie beteken het vir die afrigter, John Plumtree.

Fassi was ʼn paar seisoene gelede hoog op die Springbok-radar (en in die span), maar sy spelpeil het agteruitgegaan weens ʼn gebrek aan selfvertroue.

Daar was teen Ulster reeds tekens van die oplewing in sy spel en Saterdag het hy daarop voortgebou. Hy het verskeie teenaanvalle uitgevoer, sy posisionele spel was uitstekend en so ook sy lang lynskoppe. Boonop het hy ʼn hele paar balle uit die lug gepluk.

Daar was ook ʼn bietjie suur vir die Sharks toe Eben Etzebeth sy ribbes beseer het en ná rustyd nie kon voortspeel nie. Hy is deur die jong Corné Rahl vervang, wat genoeg vuur gestook het.

Wat wel kwaai gelol het, is hoe maklik die Sharks besit afgestaan het en hoeveel losballe Jamie Ritchie en Hamish Watson gegaps het. Maar dan moet ʼn mens ook onthou dat hulle twee van die beste baljagterflanke in Europese rugby is.

Puntemakers: Sharks 23: Drieë: Aphelele Fassi, Lukhanyo Am, Pepsi Buthelezi. Doelskop: Siya Masuku. Strafdoele: Masuku (2).

Edinburgh 13: Drie: Boan Venter. Doelskop: Ben Healy. Strafdoele: Healy (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.