Sharks verloor sleg stoom teen Fransmanne

Thomas Ramos en Antoine Dupont vier een van Toulouse se drieë. (Foto: Valentine Chapuis/AFP)

Vir meer as 60 minute het dinge heel belowend vir die Sharks in die kwarteindstryd van die Kampioenebeker teen Toulouse gelyk.

Ja, die Fransmanne was met 26–17 voor, maar die Sharks het nie vir hul teenstanders teruggestaan nie en hulle het ongetwyfeld vuur met vuur beveg.

Curwin Bosch en Grant Williams was lus vir hardloop, terwyl Thomas du Toit sy man in die skrums gestaan het.

Maar om ʼn rugbywedstryd te wen moet jy vir die volle 80 minute speel en Toulouse het doodeenvoudig net na ʼn hoër rat oorgeskakel om die Sharks in sy truspieëltjie te los.

Toe die eindfluitjie blaas, het ʼn see van rooi ondersteuners in hul pawiljoensitplekke feesgevier: ʼn  Eindtelling van 54–20 dui immers op ʼn ordentlike drag slae.

Antoine Dupont het sy spelers soos ʼn wafferse Napoleon bestuur, terwyl Thomas Ramos oudergewoonte sy bestendige [en briljante] self was. Romain Ntamack se zoep-zap-en-zirts-lopie in die doodsnikke van die wedstryd – sommerso dwarsdeur die Sharks-verdedigers – was die finale spyker in die besoekers se doodskis.

Tog verdien sommige spelers beslis ʼn klop op die skouer.

Bosch het met tye soos ʼn wafferse Cravenweekspeler sy teenstanders op die aanval geflous, terwyl Williams gewys het dat hy oor hope spoed beskik.

Dan het Werner Kok ook sy bes gedoen, terwyl Rohan Janse van Rensburg oudergewoonte met leeuemoed gespeel het.

Die sterk binnesenter is egter later in die wedstryd per draagbaar van die veld gedra en hoewel hy duim in die lug vir die toeskouers kon waai, was die Sharks se gô uit.

ʼn Mens verstaan waarom Toulouse al ʼn paar keer die silwerware in Europa omhoog gehou het.

  • Grant Williams en Boeta Chamberlain het die Sharks se drieë gedruk, terwyl Curwin Bosch tien punte met sy skopskoen aangeteken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.