Sharks wen aksiebelaaide Loftus-stryd

Bongi Mbonambi op die voorvoet. Foto: GB Jordaan.

Die Sharks moes weliswaar vandag in die tweede helfte bontstaan om ’n begeesterde Bulls-vyftiental in toom te hou, maar hulle het nogtans genoeg gedoen om die wedstryd met 29 – 22 in Pretoria te wen.

Dit was die Durbaniete se eerste Superrugby/Verenigde Rugbykampioenskap-oorwinning op Loftus Versfeld in meer as tien jaar.

Die kragmeting het rampspoedig vir die Bulls begin toe Morné Steyn sommer vroeg met ’n rooi kaart vir ’n gevaarlike duikslag van die veld gejaag is.

Steyn is dikwels die spilpunt waarom die Pretorianers se sukses draai en om ’n speler van sy gehalte te verloor was ’n gevoelige terugslag vir die tuisspan.

Lukhanyo Am se skitterpoging is net voor rustyd toegeken. Foto: GB Jordaan.

Die Sharks het die Bulls so te sê onmiddellik – danksy Henco Venter se drie – op die telbord gestraf, terwyl Lukhanyo Am se skitterpoging (was daar dalk onkantspel betrokke?) gesorg het dat die besoekers ’n rustydvoorsprong van 19 – 5 geniet het.

Maar die Bulls is ’n trotse span wat nie maklik op Fort Loftus hensop nie en Marcell Coetzee het gesorg dat die Pretorianers die eerste punte van die tweede helfte aanteken.

Voeg daarby nóg ’n rooi kaart (hierdie keer was die Sharks se Grant Williams gestraf ná hy koppe met Chris Smith gestamp het) saam met twee Bulls-drieë (danksy Simphiwe Matanzime en ’n vlieënde Madosh Tambwe); en daar was skielik ’n benoude gespartel in die Sharks-tenk.

Grant Williams word ’n rooi kaart gewys. Foto: GB Jordaan.

Ongelukkig vir Bulls-ondersteuners was daar ook ’n verspeelde kans of twee.

Muller Uys se drie is nie toegeken nie omdat Coetzee se aangee vorentoe was, terwyl die tuisspan ook in Steyn se afwesigheid met hul stelskopwerk gesukkel het.

’n Suksesvolle Curwin Bosch-strafskop in die 80ste minuut van die wedstryd het egter die kragmeting vir die besoekers beklink.

Ja, die Sharks het met sewe punte gewen, maar hulle moes hierdie wedstryd al in die eerste helfte buite die Bulls se bereik geplaas het; dit is wat ’n Europese span sou gedoen het.

Daarteenoor kan die Bulls hulself ’n klop op die skouer gee vir die wyse waarop hulle in die laaste 40 minute teruggeveg het.

Maar ai, daardie vorentoe-aangee…

  • Puntemakers:

Sharks: Drieë: Henco Venter, Bongi Mbonambi, Lukhanyo Am en Makazole Mapimpi. Doelskoppe: Tito Bonilla (2) en Curwin Bosch. Strafskop: Bosch.

Bulls: Drieë: Cornal Hendricks, Marcell Coetzee, Simphiwe Matanzima en Madosh Tambwe. Doelskop: Chris Smith.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

piet ·

Hoe dan nou nulle? Eers die Stormers en nou die $hark$ wat baljaar daar op Loftus. Hierdie is so tipies van White as afrigter. Begin altyd met ‘n “bang” en dan typer dit af na gemiddeldheid. Jy kan maar sy hele afrigtingsloopbaan bekyk, dis ‘n algemene tendens vir hom. Die gesegde “nuwe besems vee skoon” is belis op hom van toepassing….maar net tydelik.

Anoniem ·

Steyn se rooikaart was hoogstens ‘n geelkaart werd, lyk vir my die Yanks het sommer die skeidsregters ook gekoop.

SjN ·

Swak optrede deur Steyn, nogtans het die 14 man terug gekom en was ongelukkig om te verloor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.