Skotte moes wérk vir sege in Cardiff

Finn Russell spog met die Doddie Weir-beker ná Skotland se oorwinning teen Wallis in Cardiff. (Foto: Adrian Dennis/AFP)

Dit was so hittete of Skotland moes nog langer wag om sy eerste wedstryd teen Wallis in Cardiff te wen. Maar toe die eindfluitjie Saterdagaand uiteindelik blaas, was dit die doedelsakblasers wat as oorwinnaars van die veld gestap het.

Die eindtelling was 27 – 26 nadat die besoekers op ʼn stadium ʼn voorsprong van 27 – 0 geniet het.

Duhan van der Merwe het twee van Skotland se drieë gedruk, terwyl Pierre Schoeman – sy Suid-Afrikaans gebore spanmaat – ook tot die driedrukaksie bygedra het.

Maar die Rooi Drake het geweier om voor hul passievolle ondersteuners te gaan lê en hulle was die ene vuur en vlam in die tweede helfte; alles natuurlik in ʼn desperate poging om hul trotse tuisrekord teen Skotland te verdedig.

Wallis het 11 wedstryde op ʼn streep teen Skotland op die Principality-stadion gewen en hulle het ʼn spul onbeantwoorde drieë gedruk, maar uiteindelik was die wenhekkie dié keer net so ʼn bietjie te hoog.

“Dit is ʼn wonderlike gevoel om vir die eerste keer in 22 jaar in Cardiff te wen, maar ons is beslis teleurgesteld met ons vertoning in die tweede helfte,” het Skotland se Finn Russell gesê.

Volgens die Skotse rugbykaptein het sy span se dissipline hulle ná rustyd kwaai in die steek gelaat en hulle sal beslis moet verbeter indien hulle enige titeldrome koester.

Vir afrigter Gregor Townsend het die spook van Skotland se 2010-nederlaag teen Wallis so byna herrys – die Skotte het tóé ook ʼn goeie voorsprong deur hul vingers laat glip om uiteindelik te verloor.

“Ek het nou gereeld aan daardie nederlaag in die tweede helfte gedink; die atmosfeer in die stadion was nou soortgelyk aan destyds se wedstryd toe Wallis ʼn merkwaardige terugvegpoging geloods het,” het die Skotse breier gesê.

“Gelukkig kon ons nou ons neuse voorhou en ons het goed in die laaste vyf minute van die kragmeting gespeel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.