Skotte stof Tonga uit, maar loop deur

Skotland het met Tonga afgereken. (Foto: Christophe Simon/AFP)

Sending voltooi, maar met ʼn vraagteken.

Skotland se mikpunt toe hulle Sondag in Nice teen Tonga gespeel het, was drieledig van aard.

Dit was om vanselfsprekend die wedstryd in Groep B by vanjaar se Wêreldbeker-toernooi te wen, om so vinnig moontlik vier drieë te druk om ʼn bonuspunt aan te teken en om so min moontlik beserings op te doen.

Twee van die drie het waar geword, maar oor die derde is daar nog nie sekerheid nie.

Die Skotte het nietemin met 45-17 gewen nadat hulle rustyd met 24-10 voor was.

Die bonuspunt was toe reeds in die sakkie nadat George Turner, Duhan van der Merwe, Rory Steyn en Rory Darge voor rustyd drieë gedruk het.

Wat beserings betref, is die Skotse kaptein, Jamie Ritchie, ná ʼn duikslag teen die kop van die veld af en kon hy nie terugkeer nie nadat hy nie die harsingskuddingstoets kon slaag nie.

Baie ander Skotte is ook erg gekneus nadat Tonga hulle soms maar min aan laagvatte gesteur het.

Twee spelers, onder wie die vleuel Afusipa Taumoepeau, is juis met geel kaarte afgestuur nadat hulle met die kop en skouers geduik het.

Dis baie jammer dat Tonga steeds nie aangeleer het om laer te duik nie. Dit skep ʼn groot probleem vir Wêreldrugby, want spelers word na ʼn sogenaamde duikskool gestuur om te leer om laag te duik, maar Tonga?

Dis hoekom die Springbokke asems sal ophou wanneer hulle komende naweek teen Tonga speel.

Wees maar verseker dat daar beserings gaan voorkom, maar hopelik nie aan sleutelspelers nie.

Wees ook maar verseker dat Tonga nie die nodige skietgoed het om die Bokke te troef nie.

Puntemakers: Skotland 45 (24): Drieë: George Turner, Duhan van der Merwe, Kyle Steyn, Rory Darge, George Horne, Blair Kinghorne, Darcy Graham. Doelskoppe: Finn Russell (5).

Tonga 17 (10): Drieë: Solomone Kata, Ben Taimefuna. Doelskoppe: William Havili. Strafdoel: Havili.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.