Skotte sweet bietjie op sonnige Murrayfield

Duhan van der Merwe was oudergewoonte ’n doring in sy teenstanders se vlees. Foto: Andy Buchanan/AFP.

Die son het vandag op Murrayfield en op die Skotse rugbyspan geskyn, maar die tuisspan het ʼn bietjie gesweet om in hul Sesnasies-kragmeting met Italië af te reken.

Die Azzurri het in die doodsnikke van die wedstryd op die doedelsakblasers se doellyn geboer. En met net vyf punte die verskil tussen die twee spanne op die telbord was enigiets nog moontlik.

Maar die besoekers se konsentrasie en afrondingswerk het deurgaans gelol en die tuisspan het eerstens omgekeerde balbesit bewerkstellig, waarna Duhan van der Merwe en Blair Kinghorn hul ore platgetrek het om die wedstryd met 26 – 19 vir die Skotte te beklink.

Kinghorn het ʼn driekuns van drieë behaal, terwyl die Suid-Afrikaans gebore Van der Merwe oudergewoonte met sy atletiese vermoë beïndruk het.

Die George-boorling het in die Skotte se sege op Twickenham die Rose se verdediging oopgekloof en hy het vandag soos ʼn wafferse akrobaat oor die Italianers se doellyn geduik om ʼn verdediger te klop én sy span se eerste drie te druk.

Die oorwinning beteken dat Skotland so te sê daarvan verseker is om die Sesnasies-toernooi in die derde plek af te sluit.

Daarteenoor kon die Italianers nog net een van hul laaste 42 kragmetings in die reeks wen. Tog het hulle vandag met ʼn moedige vertoning vorendag gekom om so amper ʼn rustydagterstand van 19 – 6 uit te wis.

Sesnasies-punteleer:

  1. Ierland: 19 punte
  2. Frankryk: 15 punte
  3. Skotland: 15 punte
  4. Engeland: 10 punte
  5. Wallis: 5 punte
  6. Italië: 1 punt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.