Small sou vandeesweek 51 geword het

James Small. Argieffoto.

Een van Suid-Afrika se helde van die 1995-Rugbywêreldbeker, James Small, sou Maandag sy 51ste verjaardag gevier het. Die legendariese Bokvleuel is egter verlede jaar in Julie aan ’n hartaanval dood.

Small is in Kaapstad gebore en hy het sy Springbok-buiging in 1992 teen die All Blacks op Ellispark gemaak.  Hy het altesaam 47 toetse gespeel en 20 drieë vir die Bokke gedruk. In sy laaste internasionale wedstryd teen Skotland het hy Danie Gerber se toetsdrieë-rekord verbeter.

Huldeblyke het ná sy dood ingestroom, nie net oor sy spel nie, maar ook oor sy menswees.

“James was een van die min regte legendes wat ons gehad het,” het sy Wêreldbeker-spanmaat en Springbokslot, Krynauw Otto, verlede jaar aan Maroela Media gesê.

“Hy was ’n rebel en nes sy klerehandelsmerk No Rules gesinspeel het, was hy ook nie ’n man wat homself veel aan reëls gesteur het nie.”

Tog glo Otto dat die geboorte van Small se dogter, Ruby, hom effens rustiger gemaak het.

“Hy het altyd tyd gehad vir ander mense en kon altyd ’n vinnige geselsie aanknoop. Ja, hy het as jong speler sy stoutighede gehad, maar ons almal was toe jonk. Hy is ’n regte legende.”

Tydens sy begrafnisdiens in Johannesburg het die voormalige Bok-kaptein Morné du Plessis gesê dat Small altyd sy beste in enige situasie gegee het.

“My blywende indruk van James is sy vrygewige gees. James het altyd alles gegee. Ons was almal lief vir hom,” het Du Plessis destyds via ’n videoboodskap gesê.

  • Wat provinsiale rugby betref het hy vir Transvaal, Natal en WP gespeel. Hy het die Curriebeker in die kleure van Natal en die Westelike Provinsie gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.