Spoggerige rugby-dinee in Pretoria

Die vyf kapteins by die dinee: Adriaan Richter, André Vos, Corné Krige, John Smit en Jean de Villiers.

’n Gala-dinee soos min word op 15 Augustus by Weiveld in Pretoria aangebied. Altesaam vyf Springbok-wêreldbekerkapteins – Adrian Richter, André Vos, Corné Krige, John Smit en Jean de Villiers – sal saam met gaste kuier en sommer hul kennermenings oor die komende Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan gee.

“Die betrokke kapteins het gesamentlik 302 toetswedstryde agter die blad en hulle het ervaring van die 1995‑, 1999‑, 2003‑, 2007‑, 2011‑ en 2015‑Wêreldbeker-toernooie. Jy het niks meer nodig om lekker oor rugby te gesels nie,” het Conrad de Kock van The South African Hall of Fame gesê.

“Dit was ’n jarelange droom om al die kapteins onder een dak te kry en dit is voorwaar ’n voorreg om dié tikkie geskiedenis aan te bied.”

Ná die afgelope paar toetswedstryde lyk die Springbokke op koers om sterk by die internasionale skouspel in Septembermaand te vertoon.

“Daar is waarskynlik nie ’n beter geleentheid as dié om die span voorspoed vir hul Wêreldbeker-avontuur toe te wens nie. Daar sal na raming ongeveer 600 gaste en hooggeplaastes van die korporatiewe en sportwêreld teenwoordig wees.”

By dieselfde spoggeleentheid sal Bok-legendes soos dr. Danie Craven, Danie Gerber en Frik du Preez by die heldesaal ingehuldig word. ’n Kameraspan van SuperSport sal daar wees om al die aksie vas te vang.

Bobaas-verhoogpersoonlikhede soos Andries Vermeulen en Hugh Bladen sal deel van die paneelbesprekings wees, terwyl Liezel Pieters en Neil Somers tot die aand se vermaak sal bydra.

’n Enig van sy soort skildery van die Wêrelbeker-kapteins, sowel as ’n gesogte beeld van dr. Craven deur prof. Pierre Volschenk, sal ten bate van liefdadigheidsorganisasies opgeveil word.

Elke gas sal ook twee toetskaartjies ontvang vir die komende wedstryd op Loftus Versfeld tussen die Springbokke en Argentinië op 17 Augustus.

  • Datum: 15 Augustus 2019
  • Plek: Weiveld in Pretoria
  • Formele gala-dinee
  • Tafel-, sowel as individuele, besprekings is beskikbaar
  • Prys sluit ete en twee kaartjies vir die internasionale kragmeting op Loftus Versfeld in.
  • Vir meer besonderhede kontak vir Conrad de Kock by 082 778 8592, of as alternatief kan ’n e-pos na [email protected] gestuur word.

Besoek www.halloffame.co.za vir meer inligting oor die Suid-Afrikaanse heldesaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nico ·

Nee-wat. Met Adrian en André ja, maar nie met die ander 3 sotte nie.

Linda ·

Hier kom nou weer n plaas en n halwe prys ter sprake. Net vir die rykes bedoel. Hou maar verby…

Johnny Burher ·

Julle is lediG deur julle NEGATIEWE opmerkings.En terloops Linda.Vind dalk eers uit van die prys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.