Springbokspan: Min veranderings, Dan du Plessis dalk die verrassing

Die Stormers se Dan du Plessis kan moontlik by die Springbokspan ingesluit word (Foto: Michael Bradley/AFP) (30 Maart 2019)

Die Springbokgroep wat in 2019 in Japan die Wêreldbeker omhoog gehou het, sal die kern van die span uitmaak wat in vanjaar se verkorte Rugbykampioenskap en aan die WB-toernooi in Frankryk speel.

Daar sal wel plek gemaak moet word vir Schalk Brits, Francois Louw en Tendai Mtawarira, wat uitgetree het. Daar hang ook vraagtekens oor die beserings van Siya Kolisi en Frans Steyn, terwyl Elton Jantjies, Warrick Gelant en Sbu Nkosi weens hul spelpeil, asook ander probleme, straks nie die groep sal haal nie.

Wees maar verseker dat die Springbokafrigter, Jacques Nienaber, en Rassie Erasmus konserwatief met hul spankeuses sal wees, want hulle sal nie krap waar dit nie jeuk nie.

Dalk sal daar een of twee klein proefnemings in die Rugbykampioenskap gedoen word, maar daar is net drie nasionale oefenkampe oor, waarvan die Stormers minstens een sal misloop weens hul betrokkenheid in die halfeindronde en moontlike eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap.

Om Gelant, Jantjies en Nkosi te vervang, kan een van die maklikste take wees, want Damian Willemse, Kurt-Lee Arendse en Canan Moodie sal ingesluit word.

Manie Libbok sal na alle waarskynlikheid die tweede losskakel wees en Deon Fourie sal soomloos vir Louw as baljagter-flank vervang, met Marco van Staden wat sy aanspraak met rotsvaste vertonings vir die Bulls bevestig het met die vurige Cobus Wiese ook nog daar.

Thomas du Toit is die aangewese plaasvervanger vir Mtawarira en Joseph Dweba of Johan Grobbelaar is die aanspraakmakers vir Brits.

Daar is ook nie heeltemal sekerheid oor wie van Jaden Hendrikse of Grant Williams saam met Faf de Klerk die skrumskakels sal wees nie, met Herschel Jantjies en Cobus Reinach reeds in die groep.

Die enigste werklike verrassing kan die insluiting van Dan du Plessis, balvaardige senter van die Stormers, in Frans Steyn se plek wees.

André Esterhuizen is na waarskynlikheid reeds Damian de Allende se luitenant, maar Du Plessis, seun van die oud-Springbok Michael du Plessis, kan dalk ook die regmerkie kry.

So het oorspronklike Springbokgroep in 2019 gelyk: Voorspelers: Schalk Brits, Lood de Jager, Pieter-Steph du Toit, Eben Etzebeth, Steven Kitshoff, Vincent Koch, Siya Kolisi (kaptein), Francois Louw, Frans Malherbe, Malcolm Marx, Bongi Mbonambi, Franco Mostert, Tendai Mtawarira, Trevor Nyakane, Kwagga Smith, RG Snyman, Duane Vermeulen.

Agterspelers: Lukhanyo Am, Damian de Allende, Faf de Klerk, Warrick Gelant, Elton Jantjies, Herschel Jantjies, Cheslin Kolbe, Jesse Kriel, Willie le Roux, Makazole Mapimpi, Sbu Nkosi, Handré Pollard, Cobus Reinach, Frans Steyn.

Damian Willemse het Jesse Kriel (beseer) tydens die toernooi vervang.

*  Die volgende spelers sal na alle waarskynlikheid by die Bok-groep betrek word: Damian Willemse, Canaan Moodie, Kurt-Lee Arendse, André Esterhuizen, Dan du Plessis, Manie Libbok, Jaden Hendrikse, Grant Williams, Thomas du Toit, Cobus Wiese, Marco van Staden, Deon Fourie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.