Springbokspan: Wie is die gelukkiges?

(Foto: Brenton Edwards/AFP.

Wanneer ʼn Springbokspan gekies word, sal daar altyd om die braaivleisvuur daaroor gestry word.

Waar is X, hoe kon hulle vir Y kies?

Wanneer ʼn speler van die Westelike Provisie destyds bo ʼn speler van Noord-Tansvaal gekies is, was daar ʼn gekerm dat dit een van Dok Danie Craven se blouoogseuns was, en boonop ʼn Matie, ondanks sy vaardighede.

En so kan ʼn mens deur die jare aangaan tot so onlangs soos Vrydag, toe Jacques Nienaber en Rassie Erasmus die Springbokspan vir vier toetswedstryde teen Ierland, Frankryk, Italië en Engeland en die SA A-span vir twee weekdagwedstryde bekend gemaak het.

Daar is 54 spelers wat saam toer, 35 Springbokke vir die vier toetse en 19 spelers wat in die week teen die Bristol Bears en Munster speel.

Sewe Springbokke sal hulle ná die toets teen Ierland by die SA A-span aansluit.

Die ongelukkiges is ongetwyfeld Jordan Hendrikse en Morné van den Berg (albei Lions), met Duane Vermeulen, Marcell Coetzee, Warrick Gelant en Rynhardt Elstadt wat nie die paal gehaal het nie benewens ʼn paar beseerdes soos Lukhanyo Am en Elrigh Louw wat nie oorweeg kon word nie.

Van die 35 Springbokke speel 19 spelers in Suid-Afrika en 16 oorsee.

Die Lions het net drie verteenwoordigers in albei groepe, ʼn aanduiding van hoe hulle markwaarde verlede seisoen getuimel het.

Die gelukkiges is Jason Jenkins, wat Vrydagaand nog vir Leinster in die Verenigde Rugbykampioenskap gepeel het, die opwindende nuweling Sacha Feinberg-Mngomezulu (hy gebruik nou sy pa en ma se vanne) en Sbu Nkosi, wat verlede week deur die Bulls-afrigter Jake White huis toe gestuur het nadat hy spanprotokol oorsee oortree het.

Johan Goosen is in die SA A-span, wat die deur vir Damian Willemse en Manie Libbok ooplaat om die no. 10-trui te dra.

Cornal Hendricks het ná ʼn tyd in die woestyn (hartprobleme) weer die jawoord gekry om internasionaal te speel.

Eintlik is daar bitter min verrassings en die kern bestaan uit spelers wat Nienaber en Erasmus die afgelope paar jaar betrek het.

Die spanne is: Springbokke: Stutte : Thomas du Toit (Sharks), Steven Kitshoff (Stormers), Vincent Koch (Stade Francais), Frans Malherbe (Stormers), Ox Nche (Sharks), Trevor Nyakane (Racing 92).

Hakers:  Malcolm Marx (Kubota Spears), Bongi Mbonambi (Sharks).

Slotte : Lood de Jager (Wild Knights), Eben Etzebeth (Sharks), Jason Jenkins (Leinster), Salmaan Moerat, Marvin Orie (albei Stormers).

Losvoorspelers:  Pieter-Steph du Toit (Toyota Verblitz), Siya Kolisi (Sharks), Evan Roos (Stormers), Kwagga Smith (Shizuoka Blue Revs), Marco van Staden (Bulls), Jasper Wiese (Leicester Tigers).

Veelsydige voorspelers: Deon Fourie (Stormers), Franco Mostert (Honda Heat).

Skrumskakels: Faf de Klerk (Canon Eagles), Jaden Hendrikse (Sharks), Cobus Reinach (Montpellier).

Losskakels: Manie Libbok, Damian Willemse (albei Stormers).

Senters : Damian de Allende (Wild Knights), André Esterhuizen (Harlequins), Jesse Kriel (Canon Eagles).

Buite-agterspelers: Willie le Roux (Toyota Verblitz), Makazole Mapimpi (Sharks), Sbu Nkosi (Bulls).

Veelsydige agterspelers: Kurt-Lee Arendse (Bulls), Cheslin Kolbe (Toulon), Sacha Feinberg-Mngomezulu (Stormers).

SA A span: Voorspelers: Simphiwe Matanzima (Bulls), Ntuthuko Mchunu (Sharks), Sazi Sandi (Stormers), Mornay Smith (Bulls), Jan-Hendrik Wessels (Bulls), Joseph Dweba (Stormers), André-Hugo Venter (Stormers), Ruan Nortje (Bulls), Phepsi Buthelezi (Sharks), Sikhumbuzo Notshe (Sharks).

Agterspelers: Herschel Jantjies (Stormers), Sanele Nohamba (Lions), Grant Williams (Sharks), Johan Goosen (Bulls), Gianni Lombard (Lions), Aphelele Fassi (Sharks), Cornal Hendricks (Bulls), Suleiman Hartzenberg (Stormers), Henco van Wyk (Lions).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Ek dink dis dalks een puik groep maar sien swarigheid vir die Bokke as Libbok opdraf. Onder groot druk vou hy. Maar laat ons hoop vir die beste vir ons Bokke

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.