Stormers baljaar onder Kaapse son

Steven Kitshoff op die oorlogpad teen Cardiff. Foto: Twitter.

Die Stormers se spel vanmiddag teen Cardiff kon met tye met ’n  Mr Bean-episode vergelyk word; daardie een waar Rowan Atkinson se karakter nie al die woorde van ’n himne kon onthou nie.

’n Paar aanslane en ritmelose spel het beteken dat hulle al prewelend probeer saamsing, maar wanneer hulle wél die woorde onthou het, het hulle ongetwyfeld uit volle bors saamgesing!

En gelukkig vir Stormers-ondersteuners was hul span sommer baie nootvas.

Tussendeur die einste verdagte hanteerwerk het die tuisspan ses juweeldrieë gedruk om die Walliese besoekers met 40 – 3 te oorrompel.

Elke Stormers-drie het uit ’n watertandmengesel van skitterende samespel en individuele briljantheid bestaan – van Ruhan Nel se poging in die eerste helfte tot Rikus Pretorius se afrondingswerk in die tweede helfte.

Dit is die Kapenaars se tweede agtereenvolgende bonuspuntoorwinning nadat hulle verlede naweek ook verspotmaklik met Zebre in Stellenbosch afgereken het.

Terselfdertyd is dit ook die tweede naweek op ’n streep waar Europese spanne nie ’n  enkele Suid-Afrikaanse span in die Verenigde Rugbykampioenskap kon klop nie.

Die Stormers (saam met die Bulls, Lions en Sharks) verdien beslis ’n klop op die skouer: Hulle was beter as hul oorsese teenstanders.

  • Puntemakers:

Stormers: Ruhan Nel, Lionel Zas, Manie Libbok, Junior Pokomela, Evan Roos en Rikus Pretorius. Doelskoppe: Libbok (4) en Tim Swiel.

Cardiff: Strafskop: Jarrod Evans.

  • Plaaslike spanne se uitslae die afgelope naweek:

Bulls 57 – 12 teen Scarlets

Lions 23 – 21 teen Munster

Sharks 38 – 6 teen Zebre

Stormers 40 – 3 teen Cardiff.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.