Stormers span die seile teen Sale

Hacjivah Dayimani het goeie rugby teen Sale Sharks gespeel. (Foto: Hansie Linde)

Die Stormers het met tye weer die vonkelwynrugbykrane oopgedraai om Sale Sharks met 31 – 24 op die DHL-stadion in Kaapstad te klop.

Hacjivah Dayimani het ʼn barshou gespeel en met sy spoed en krag was hy deurgaans ʼn doring in die Engelsmanne se vlees. Dit is glad nie verregaande om te sê dat hy goed genoeg is om ʼn Springbok te word nie.

Dan het Suleiman Hartzenberg en Leolin Zas vir die agterspelerdrieë gesorg waaraan die Stormers-ondersteuners gewoond is: Vaart en vernuf was twee van die hoofbestanddele.

Die uitslag beteken dat die Kapenaars nou die derde plek in Groep 4 van die Kampioenebeker-punteleer beklee en hulle is ʼn tree nader om vir die uitspeelwedstryde te kwalifiseer.

Tog was daar ʼn paar konsentrasieverloor-oomblikke wat die afrigterspan sou laat frons het. Een van die grootste blapse was toe Zas die bal – weliswaar uit pure desperaatheid om weg van sy doellyn te kom – mooi in die hande van Sam Bedlow gegooi het.

Die dankbare Bedlow kon net neerval om Sale se derde drie te druk.

Maar die Stormers het weer eens gewys dat hulle oor die vermoë beskik om verdedigers te laat bontstaan; hulle moet net nie self drieë op ʼn skinkbord weggee nie.

Die Kapenaars het vier drie – danksy Suleiman Hartzenberg, Hacjivah Dayimani en Leolin Zas – in die kragmeting gedruk. (Foto: Hansie Linde)

  • Puntemakers:

Stormers: Drieë: Hacjivah Dayimani, Suleiman Hartzenberg en Leolin Zas (2). Doelskoppe: Manie Libbok (4). Strafskop: Libbok.

Sale Sharks: Drieë: Jonny Hill, Augustin Creevy en Sam Bedlow. Doelskoppe: Robert du Preez (3). Strafskop: Du Preez.

  • Groep 4-punteleer:
  1. Leinster: 14 punte ná drie wedstryde
  2. Leicester Tigers: 9 punte ná twee wedstryde
  3. Stormers: 9 punte ná drie wedstryde
  4. Sale Sharks: 5 punte ná drie wedstryde
  5. La Rochelle: 2 punte ná twee wedstryde
  6. Stade Francais: 1 punt ná drie wedstryde

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.