Sukkelende Stormers doen selfondersoek

Die Stormers se John Dobson is teleurgsteld met sy span se oorsese vertonings. (Foto: Simon King/ProSportImages/DPPI via AFP)

Die Stormers het ’n uitstekende aanloop tot die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) geniet. Daar was die silwerwarevertoning in hul eerste probeerslag, terwyl hulle tot die eindstryd van die daaropvolgende toernooi gevorder het.

Maar deesdae kry hulle ongetwyfeld die wind van voor.

Die Kapenaars het nou vier wedstryde op ’n streep in Europa verloor en hulle sal hoop om hul veldtog weer op koers te kry wanneer hulle Saterdag teen Zebre in Stellenbosch speel.

Vir John Dobson was dit moeilik om te sien hoe sy span oorsee kleitrap. Ja, daar was moeilike wedstryde teen Glasgow Warriors en Munster, maar ’n mens het beter vertonings teen Benetton en Cardiff verwag.

“Brok Harris het gesê dat ons almal hand in eie boesem moet steek om te bepaal wat ons beter kon gedoen het. Ons het vooraf wedstryde geïdentifiseer wat ons kon wen, maar ons het dit doodeenvoudig net weggesmyt,” het ’n teleurgestelde Dobson gesê.

Veral die nederlaag teen Cardiff was ’n bitter pil om te sluk.

Die Stormers het ’n voorsprong van 14 – 0 opgebou, net om uiteindelik met 31 – 24 teen die Walliese klub te verloor.

“Ek het glad nie verwag dat ons só gaan speel nie. Dit was verreweg ons swakste vertoning van die toer en dit was ’n teleurstellende manier om dinge af te sluit.”

Volgens Dobson is dinge in die Verenigde Rugbykampioenskap definitief meer mededingend as vantevore.

“As jy na die bepalings kyk, is daar gereeld wedstryde waar jy nie heeltemal seker is wie gaan wen nie.”

Hy sien daarna uit om weer ’n paar wedstryde in Suid-Afrika te speel.

“Ons kan ook weer op ’n paar terugkerende spelers [soos Manie Libbok en Damian Willemse] se knoppies druk. Ná vyf wedstryde op toer speel ons darem ook weer op ons tuisveld en ons sal beter vertonings moet lewer.”

Die wedstryd teen Zebre begin Saterdag om 19:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Stormers se VRK-uitslae:

35 – 33 teen Lions op Ellispark (wen)

52 – 7 teen die Scarlets op die Danie Craven-stadion (wen)

20 – 9 teen die Glasgow Warriors op die Scotstoun-stadion (verloor)

20 – 17 teen Benetton op die Stadio Monigo (verloor)

10 – 3 teen Munster op Thomond-park (verloor)

31 – 24 teen Cardiff op Cardiff Arms-park (verloor).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.