Teenstanders skeel vurige Eben min; hy wil net wen

Eben Etzebeth op die aanval (November 2021) (Foto: Adrian Dennis/AFP)

Die pla nie juis vir Eben Etzebeth wie in Suid-Afrika se pad na moontlike Wêreldbeker-glorie staan nie, hy is oorgehaal om sy beste vir die Springbokke te gee.

Die Webb Ellis-trofee is immers die pot goud aan die einde van die rugbyreënboog.

“In die uitspeelrondes van ʼn Wêreldbeker-toernooi maak dit nie soseer saak teen wie jy speel nie – ʼn oorwinning sorg vir soveel opwinding en vreugde. Al vier oorblywende spanne het nog net twee hindernisse om te oorbrug voordat hulle die silwerware omhoog kan hou en dit dien as oorgenoeg motivering om jou beste te gee,” het die Springbok-slot gesê.

Etzebeth het ʼn barshou in die Bokke se kwarteindstryd-oorwinning teen Frankryk op die Stade de France gespeel en hy is oorgehaal om die Suid-Afrikaners se wenvuur te bly stook.

“Die wete dat ons nou nog ʼn kans staan om [die toernooi] te wen is die grootste dryfveer. Of ons nou teen Engeland of Fidji in die halfeindstryd sou speel; dit maak nie enige verskil aan ons desperaatheid om te wen nie.”

Hy glo ook dat Engeland vir die teleurstelling van die 2019-eindstryd sal wil vergoed.

Handré Pollard het toe 22 punte met sy skopvoet in Jokohama aangeteken, terwyl Makazole Mapimpi en Cheslin Kolbe drieë in Suid-Afrika se oorwinning van 32 – 12 gedruk het.

“Hulle sal nou fisieke en aggressiewe rugby teen ons wil speel en ons sal hoegenaamd nie terugstaan nie. Dit is die halfeindstryd van die Wêreldbeker en die grootste prys is op die spel.”

Die wedstryd begin Saterdag om 21:00 en dit word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Springbokke: Damian Willemse (heelagter), Kurt-Lee Arendse (regtervleuel), Jesse Kriel (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Cheslin Kolbe (linkervleuel), Manie Libbok (losskakel), Cobus Reinach (skrumskakel), Duane Vermeulen (agtsteman), Pieter-Steph du Toit (flank), Siya Kolisi (kaptein en flank), Franco Mostert (slot), Eben Etzebeth (slot), Frans Malherbe (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Steven Kitshoff (stut). Plaasvervangers: Deon Fourie, Ox Nche, Vincent Koch, RG Snyman, Kwagga Smith, Faf de Klerk, Handré Pollard en Willie le Roux.

Engeland: Freddie Steward (heelagter), Jonny May (regtervleuel), Joe Marchant (buitesenter), Manu Tuilagi (binnesenter), Elliot Daly (linkervleuel), Owen Farrell (losskakel), Alex Mitchell (skrumskakel), Ben Earl (agtsteman), Tom Curry (flank), Courtney Lawes (flank), George Martin (slot), Maro Itoje (slot), Dan Cole (stut), Jamie George (haker) en Joe Marler (stut). Plaasvervangers: Theo Dan, Ellis Genge, Kyle Sinckler, Ollie Chessum, Billy Vunipola, Danny Care, George Ford en Ollie Lawrence.

Skeidsregters: Ben O’Keeffe (skeidsregter), Andrew Brace (assistentskeidsregter), Paul Williams (assistentskeidsregter) en Brendon Pickerill (televisiebeampte).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.