Toetsrugby: All Blacks val byna vas teen Japan

(Foto: All Blacks, Twitter)

Die All Blacks het Saterdagoggend in Tokio ’n paar benoude oomblikke beleef voordat hulle Japan met 38-31 in hul eenmalige toetswedstryd kon troef.

Die Nieu-Seelanders se oorwinning is versuur nadat die slot Brodie Retallick in die 65ste minuut met ʼn rooi kaart afgestuur is nadat hy Kazuki Himeno onwettig by ʼn losskrum uitgehaal het.

Retallick sal nou voor ʼn tugkomitee verskyn en die kans is goed dat hy, die agtste All Black wat in die laaste vier jaar afgestuur is, ʼn groot deel van die toer na die Noordelike Halfrond kan misloop.

Die All Blacks se gebrek aan dissipline was net een van die groot kopsere vir die afrigter, Ian Foster.

Die All Blacks speel komende Saterdag teen Wallis in Cardiff. Die All Blacks speel ook nog teen Skotland en Engeland en sal hul spelpeil moet lig.

Die Kiwi’s het weliswaar vyf drieë gedruk, maar die span kon nie die 65 000 toeskouers werklik beïndruk nie.

Voor die toets was die groot besprekingspunte hoe die nuwelingheelagter Stephen Perofeta en die oud-rugbyliga-senter Roger Tuivasa-Sheck sou vaar.

Maar die All Blacks het konserwatief gespeel en op hoë skoppe staatgemaak, terwyl die Japanners vol ondernemingsgees was en al hul bewegings op volle vaart uitgevoer het.

Hul grootste uitblinkers was die strydrosflank Michael Leitch, die slot Warner Dearns, die linkervleuel Siosia Fifita, die senter Dylan Riley en die losskakel Takuya Yamasawa.

Die All Blacks was in die eerste helfte met 21-3 voor voordat die tuisspan teruggeveg het ná drieë deur Yamaswa en die skrumskakel, Yutaka Nagare. Japan was met rustyd net met 21-17 agter.

Nadat Retallick afgestuur is en Kazuki Himeno ʼn drie vir die tuisspan gedruk het, moes die Nieu-Seelanders verbete aan hul voorsprong vasklou.

Puntemakers: Nieu-Seeland 38 (21): Drieë : Brodie Retallick, Braydon Ennor, Sevu Reece, Caleb Clarke, Hoskins Sotutu. Doelskoppe: Richie Mo’unga (5). Strafdoel:   Mo’unga.

Japan 31 (17): Drieë : Takuya Yamaswa, Yutaka Nagare, Warner Dearns, Kazuki Himeno. Doelskoppe: Yamaswa (4). Strafdoel: Yamasha.

Bron: stuff.co.nz

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.