Tukkies-skerpskutter verbeter Catrakilis-rekord

Tukkies se Zander du Plessis. Foto: Christiaan Kotze/ Varsity Sport.

Hulle was weliswaar nog nie een keer vanjaar slaags nie – hul groepfasekragmeting is uitgestel – maar Maandagaand sal Tukkies en Ikeys om die silwerware in die eindstryd van die Varsitybeker baklei.

Die twee spanne het onderskeidelik met die Maties en met die NWU Arende afgereken om hul plek in die laaste wedstryd van die toernooi te bespreek. Tukkies sal nou poog om die trofee vir die vierde keer omhoog te hou, terwyl Ikeys – indien suksesvol – vir die derde keer met die louere sal wegstap.

  • Tukkies 44 – 35 Maties:

Die Pretorianers se heelagter Zander du Plessis het gisteraand Demetri Catrakilis se rekord vir die meeste punte in ’n Varsitybeker-seisoen verbeter.

Die oudlosskakel van die WP het in die 2012-seisoen 136 punte aangeteken. Du Plessis het gisteraand – te danke aan sy 17 punte –  met 145 punte die rekord verbeter. Hy het juis in die aanloop tot die halfeindstryd ’n gemiddeld van 18 punte per wedstryd vir die Pretorianers aangeteken.

Maties is deur ’n rustydagterstand van 18 – 3 in die gesig gestaar en hoewel hulle in die tweede helfte vlamgevat het, was nóg ’n eindstryd net buite die bereik van die verdedigende kampioenspan.

Puntemakers:

Tukkies: Drieë: Stefan Coetzee (2), David Coetzer, Stephan Smit en Clyde Lewis. Doelskoppe: Zander du Plessis (4). Strafskoppe: Du Plessis (3).

Maties: Drieë: Siba Xamlashe (2), Munier Hartzenberg en Mitchell Carstens. Doelskoppe: Adriaan van der Bank en Nevaldo Fleurs (3). Strafskop: Van der Bank.

  • Ikeys 54 – 36 NWU Arende:

Ikeys het eerste op die punteleer geëindig en hulle het hul goeie spelpeil in die halfeindstryd voortgesit toe hulle ’n agterstand van 15 – 0 (selfs sonder die diens van James Tedder) uitgewis het om uiteindelik op ’n drafstap te wen.

Hoewel die Kapenaars ongetwyfeld die gunsteling was om met die louere weg te stap, moet André Pretorius se Potchefstromers vir hul veggees geloof word.

Die voormalige Springbok-losskakel het juis vooraf gesê dat sy span met lekker vryheid kan speel omdat al die druk op Ikeys is om te presteer. Keano Windvogel se blitslopie om ’n drie te druk het van hierdie vryheid getuig.

Maar die Ikeys weet vanjaar net hoe om wedstryde te wen.

Puntemakers:

Ikeys: Drieë: Gary Porter, Le Roux Malan, Christian Stehlik, Josh van Vuuren (2), Rihaz Fredericks, David Hayes en Kyle Bowman. Doelskoppe: David Hayes (6) en Bowman (2).

Arende: Drieë: Keano Windvogel, Gustav du Rand, Arno Gustafson en Caleb Louw. Doelskoppe: Nivan Petersen (2), Marco Donges en Riaan Genis. Doelskoppe: Petersen (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.