Uitdaagbeker-reeks: Cheetahs spoel oor Zebre

Ruan Pienaar (Foto: @cheetahsrugby/Twitter)

Hoeveel keer moet ʼn mens dit nog sê: die Cheetahs is onverdiend die swartskape van Suid-Afrikaanse rugby.

Dit het die Cheetahs Saterdag in die Europese Uitdaagbeker-reeks teen Zebre in die Stadion Segio Lafranchi in Parma gewys toe hulle met 33-15 gewen het.

Die Cheetahs was rustyd reeds met 14-3 voor en die telling vlei die tuisspan, want hulle het twee drieë in die laaste drie minute gedruk.

Almal weet dat Zebre in die Verenigde Rugbykampioenskap speel en goeie rekenskap van hulself teen die Stormers weg van die huis af gegee het. Maar toe loop hulle hul teen die Cheetahs vas, wat die soveelste keer gewys het dat hulle waardige teenstanders in die VRK-reeks sou wees en daar hoort, maar nie die jawoord kan kry nie.

ʼn Mens het in die eerste helfte koue rillings gekry toe die Engelse skeidsregter, Jack Makepeace, se skril fluitjie byna die Cheetahs se partytjie bederf het. Wanneer ʼn skeidsregter se van Makepeace is, kan jy maar verseker wees dat daar ʼn hele paar sêgoed oor van sy hantering van die wedstryd sal wees, reg of verkeerd.

Makepeace, ʼn 34-jarige skeidsregter van Doncaster in Engeland, se fluitjie het die kragmeting in die eerste helfte bederf. Spel kon nie vloei nie omdat hy Cheetahs baie laat deurloop het, veral omdat hulle volgens hom nie in die losskrums weggerol het nie. Die vaskopstut Laurence Victor het boonop ʼn geel kaart vir ʼn soveelste spanoortreding gekry, maar Zebre kon dit nie uitbuit nie.

Dalk het hy rustyd vrede met die Cheetahs gemaak, want in die tweede helfte is hulle baie minder gestraf en kon spel vloei.

Vir die Cheetahs was die oorwinning stroopsoet, maar vir Zebre sommer baie suur.

Waar daar ʼn opflikkering in Zebre se laaste paar wedstryde in die VRK-reeks was, was hulle power op hul tuisveld. Hulle het bottervingers gehad, die bal swak aangegee en kon byna nooit die voordeellyn oorsteek nie. Maar dalk was dit die Cheetahs wat hulle in foute gedwing het, hulle van besit in die vaste fasette ontneem het en hulle agter die voordeellyn voos geduik het.

Boonop het Ruan Pienaar, wat skrumskakel gespeel het, met sy skopskoen oorheers. Hy is ook welverdiend as Speler van die Wedstryd aangewys omdat hy koel, kalm en beredeneerd was en 18 punte aangeteken het.

Puntemakers: Cheetahs 33 (16): Drieë: Cohen Jasper, Reinhardt Fortuin, Louis van der Westhuizen. Doelskoppe: Ruan Pienaar (3). Strafdoele: Pienaar (4).

Zebre 15 (3): Drie: Alessandro Fusco, Simone Gesi. Doelskop: Geromino Priaciantelli. Strafdoel: Tiff Eden.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.