Uitdaagreeks: Geen wenner op Ellispark

(Foto: GB Jordaan)

In rugbykringe sê hulle om gelykop te speel, is soos om jou suster te soen.

So het die oud-Springbok- en Leeus-afrigter Kitch Christie altyd daarna verwys en só ook van die ouer spelers voor hom.

Saterdagmiddag op Ellispark het die eerste kragmeting van vanjaar se nuwe Europese Uitdaagreeks tussen die Lions en die Walliese Dragons met 31 – 31 gelykop geëindig nadat die rustydtelling 24 – 17 in die guns van die besoekers was.

Daar word geen televisie-onderhoude met die wenkaptein gevoer nie, want daar is nie een nie.

En wat gaan die twee afrigters sê: Dit was ʼn wedstryd wat ons kon gewen het.

Ja, die Dragons kon gewen het, want die losskakel Sam Davies het kort voor die einde met ʼn skepskop van reg voor die pale misluk.

Die Lions kon ook gewen het, maar die plaasvervanger-losskakel Jordan Hendrikse het met ʼn strafdoel van 56 meter net-net misluk nadat die sirene reeds geloei het.

Daar was skaars 2 000 toeskouers op Ellispark, want behalwe skolerugby in die winter, watter ander spanne speel in die middel van die somer oor die middaguur?

(Foto: GB Jordaan)

Dis straks hoekom albei spanne se spelers pootuit was en daar verkeie waterbreuk-onderbrekings was.

Daar was heelwat opflikkeringe, soos die vertonings van Andries Coetzee en Edwill van der Merwe vir die Lions.

Die Dragons, wat die afgelope maand in die land was en ook in die Verenigde Rugbykampioenskap teen die Stormers en Lions verloor het, was straks die effe beter span.

Die Lions moes ook vir tien minute in die tweede helfte met net 14 spelers klaarkom nadat JP Smith glo ʼn teenstander gepootjie het.

Boonop het die Engelse skeidsregter, Anthony Woodthorpe, sy fluitjie in sy sak gehou terwyl albei spanne in die rooi sone (binne vyf meter van die teenstanders se doellyn af) gereeld oortree het.

Punte: Lions 31 (17): Drieë: Gianni Lombard, Asenathi Ntlabakanye, Edwill van der Merwe (2). Doelskoppe: Lombard (2), Jordan Hendrikse (2). Strafdoel: Lombard.

Dragons 31 (24): Drieë: Jordan Williams, Rhodri Williams, Sam Davies, Jack Dixon. Doelskoppe: Sam Davies (4). Strafdoel: Davies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.