Van Toulouse en (dalk) Toulon: Jy verstaan Kolbe se gewildheid

Cheslin Kolbe in aksie vir Toulouse. Foto: Thomas Coex/AFP.

Volgens Franse mediaberigte vry Toulon hard na die dienste van Suid-Afrika se Cheslin Kolbe. Die Suid-Afrikaanse vleuel het tans nog ’n kontrak by Toulouse – ’n span saam met wie hy die afgelope Europese kampioenskap gewen het.

Maar Bernard Lemaitre, Toulon se president, het gister gesê dat die twee klubs inderdaad in gesprek met mekaar oor Kolbe se toekoms is.

“Dit is ’n geleentheid wat hom voorgedoen het wat voordele en nadele vir albei klubs kan inhou. Dit is waarom ons die storie eers mooi uitkyk,” het Lemaitre gesê.

’n Mens verstaan egter Kolbe se gewildheid.

Kolbe is ook uitstekend op verdediging. Foto: Rodger Bosch/AFP.

Die 27-jarige agterspeler is waarskynlik die wêreld se beste vleuel en selfs met beperkte geleenthede op aanval in die Springboktrui vind hy steeds sy pad na die doellyn.

Hy het belangrike drieë in die Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland gedruk, terwyl sy drie in die beslissende toets teen die Britse en Ierse Leeus die wedstryd in Suid-Afrika se guns geswaai het.

Daarbenewens is hy vreesloos op verdediging terwyl hy ook op skrumskakel kan uithelp wanneer een van die nommernegespelers nie op die veld kan wees nie.

“Cheslin was briljant en hy sorg vir soveel energie. Terselfdertyd is hy een van ons belangrikste spelers en hy was oudergewoonte weer oral op die veld – dit is wonderlik om hom in die span te hê,” het Lukhanyo Am gesê nadat Kolbe ’n reuse-aandeel in ’n drie teen die Leeus gehad het.

Sedert die vlugvoetige agterspeler sy buiging vir Toulouse in 2017 gemaak het, het hy 172 punte vir die span in 82 wedstryde aangeteken.

Hy het sy spanmaats vir hul ondersteuning geloof nadat hy as die Top 14-kompetisie se speler van die jaar in 2019 aangewys is.

“Ek kon dit nie regkry sonder die ondersteuning van my spanmaats nie. Hulle verdien eintlik al die lof, want as hulle nie vir my geleenthede as vleuel geskep het nie, sou ek nie vandag hier gestaan het nie,” het Kolbe gesê.

Indien hy hom by Toulon aansluit (dalk reeds in Oktober), kan hy saam met spelers soos Eben Etzebeth, Quinn Roux en Cornell du Preez speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.