Fidji se Warriors was in ʼn vernietigende bui toe hulle Saterdag seker gemaak het dat hulle Wêreldrugby (WR) se Stille Oseaan-uitdaagtoernooi ʼn derde keer op die ry af wen.
Die span het Tonga A in Soeva, Fidji, met 57-7 verwoes nadat hy rustyd reeds met 43-0 in die saal was.
Fidji het nege drieë (sewe in die eerste helfte) teen een gedruk.
Sy losskakel, Serupepeli Vularika, het 17 van die wenspan se punte met ʼn drie en ses doelskoppe op die telbord geplaas.
Dit is die agste keer in die 11 jaar dat die toernooi plaasvind, dat Fidji se naasbeste as die oorwinnaar uit die stryd tree.
Junior Japan het die tweede plek ingeneem deur Samoa A met 29-21 te troef, in weerwil van laasgenoemde se rustydvoorsprong van 14-12.
Die Samoane het derde en die Tongane laaste geëindig.