Verrassings duur voort in WR se APC-toernooi

Die verrassings in Wêreldrugby se Amerikas-Stille Oseaan-toernooi vanjaar in Montevideo, Uruguay, het tot met die laaste kragmeting Sondag voortgeduur.

Samoa A is die nuwe kampioen nadat hy Uruguay A teen alle verwagting in met 38-26 geklop het.

Die gasheerland was die gunsteling nadat hy vroeër in die toernooi met die Argentynse Vyftiental afgereken het, wat die vorige drie toernooie gewen het.

Samoa se agttal het die Uruguayane voor deeglik vasgevat en die grondslag vir die oorwinning gelê.

♦ Die Argentyne het op die ou end tweede gekom, deur die Amerikaanse Vyftiental met 55-15 af te ransel.

Joaquín Díaz Bonilla, hul losskakel, het 16 punte met ʼn drie, vier doelskoppe en ʼn strafdoel aangeteken.

♦ Kanada A het ook verras – nadat min hom ʼn kans gegun het – deur Tonga A in ʼn sterk eindpoging net-net met 32-31 te troef.

Die wenspan was 23 minute voor die einde nog met 15 punte agter, maar het op die ou end die wa deur die drif getrek.

Kainoa Lloyd, die Kanadese regtervleuel, het drie drieë gedruk, een ná ʼn lopie van 45 meter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.