Vier Ierse spanne asook Bulls en Lions beur na vore

Die Bulls het die Stormers met 40 – 22 op Loftus Versfeld geklop. (Foto: GB Jordaan)

Al vier Ierse rugbyspanne het Vrydag en Saterdag, selfs sonder die meeste van hul Sesnasies-spelers, bonuspuntoorwinnings in die Verenigde Rugbykampioenskap behaal, wat sake vorentoe vir veral die Stormers en Lions kan beduiwel.

Soos sake staan, loop Leinster (44 punte) voor, gevolg deur die Bulls en Glasgow Warriors (albei met 40 punte).

Dan volg Edinburgh, Ulster en Munster (almal 34 punte), Connacht (33), Benetton (32), die Stormers en Ospreys (albei 30), die Lions (29), Cardiff (22), Zebre (14), Scarlets (12), Dragons (11).

Die sukkelende Sharks is steeds laaste met tien punte.

Konserwatief bereken sal 50 punte genoeg wees om vir die uitkloprondes te kwalifiseer, maar om tuisveldvoordeel te beklink, sal spanne met 55 of meer punte moet eindig.

Die Bulls, ná hul sege van 40-22 oor die Stormers op Loftus Versfeld, is redelik seker daarvan om tussen die topvier te eindig, maar die Stormers en Lions het ʼn hele paar slaggate in hul pad om die uitklopronde (veral tuis) te haal.

Leinster was weer indrukwekkend in hul sege oor Cardiff, vir wie Thinus de Beer op losskakel uitgeblink het.

Leinster se hanteerwerk in mislike reëntoestande asook die wyse waarop hulle vinnige besit by die afbreekpunte verkry en dan die bal heen en weer swaai, was ʼn lus vir die oog.

Cardiff, een van Wallis se keurspanne, het nou net drie van hul 15 wedstryde dié seisoen gewen, met 11 nederlae en een gelykopuitslag. Twee van daardie oorwinnings was teen die ewe sukkelende Dragons.

Ulster was in Belfast kookwater onder die instaan-afrigter Dan Soper, wat vir een wedstryd waargeneem het nadat Dan McFarland die trekpas gekry het.

Ulster het sewe drieë gedruk met die woelige skrumskakel John Cooney wat al sewe verdoel het en die grondslag vir die nuwe afrigter, Richie Murphy, gelê het.

Murphy, afrigter van Ierland se o. 20-span, neem nou die leisels.

Munster het Vrydagaand in Cork sewe drieë in hul sege van 45-19 oor Zebre gedruk.

Munster het vier van hul akademie-spelers kans gegee, terwyl die Springbokslot RG Snyman met twee drieë die groot uitblinker was.

Dit was Munster se 20ste agtereenvolgende sege oor Zebre.

Connacht het ook sy kanse verstewig om die uitspeelrondes te haal toe hulle die Scarlets met 28-10 in Galway geklop het.

Soos in die meeste ander Europese wedstryde het dit kwaai gereën wat sake bemoeilik het.

Hoewel Connacht maklik gewen het, het hulle nie juis die gevaarligte vir die ander spanne laat flikker nie.

* In Treviso het die Glasgow Warriors in uiters goor toestande persentasie-rugby gespeel om Benetton met 19-8 te klop.

Die Warriors, wat deur Franco Smith afgerig word, het van taktiese skoppe in die gietende reën gebruik gemaak om die bal voor die voorspelers en in Benetton se gebied te hou.

Die naweek se uitslae:

Lions 40, Sharks 10;

Bulls 40, Stormers 22;

Benetton 8, Glasgow Warriors 19;

Connacht 28, Scarlets 10;

Cardiff 20, Leinster 33;

Ulster 46, Dragons 10;

Edinburgh 19, Ospreys 15;

Munster 45, Zebre 29.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.