VRK-reeks: Groot gestoei tussen SA spanne

Stormers teen Leinster (30 April 2022) (Foto: Hansie Linde)

Toe die organiseerders verlede jaar die nuwe Verenigde Rugbykampioenskap aangekondig het, is daar sekerlik nie verwag dat drie van die vier Suid-Afrikaanse spanne in die uitspeelrondes sou speel nie, wat nog van tuis.

Soos sake ná Saterdagaand se kragmeting tussen Ulster en Edinburgh staan, wat deur Ulster met 16-10 gewen is, is Leinster (62 punte) boaan die puntelys en kan hy nie meer ingehaal word nie.

Daar is ʼn groot gestoei om die volgende vier plekke, met Munster, die Sharks en Stormers wat dit uitspook, want al drie spog het 56 ligapunte.

Nadat die Sharks Connacht met 41-21 geklop het, die Stormers ʼn sege van 20-13 oor Leinster behaal het en die Bulls Vrydagaand vir die Glasgow Warriors met 29-17 geklop het, is die kaarte lelik deurmekaar geskommel.

Die Lions het Benetton met 37-29 uitgestof, maar dit het geen uitwerking op die VRK-puntelys nie.

Ulster (55) en die Bulls (53) is steeds in die wedloop om tussen die topvier te eindig om sodoende ʼn kwarteindstryd tuis te beklink, met die twee Skotse spanne, die Glasgow Warriors en Edinburgh (albei 50 punte) wat die laaste twee topagt-plekke vir die uitspeelrondes vul.

Daar bly nog net een reeks wedstryde vir die vier Suid-Afrikaanse spanne oor, en almal is oorsee.

Die Bulls speel op 20 Mei (Vrydagaand) teen die Walliese Ospreys in Swansea en Ulster speel dieselfde aand in Belfast teen die Sharks.

Die Stormers sluit op Saterdag 21 Mei in Llanelli teen die Scarlets af en die Lions, wat op 37 punte 11de op die puntelys is en nie meer in die wedloop is om te kwalifiseer nie, sluit op 21 Mei teen die Dragons af in Newport.

Wat belangrik is, is dat die twee Walliese spanne, die Scarlets (negende met 44 punte) en die Ospreys (tiende met 39 punte) in ʼn tweestryd van hul eie gewikkel is om te bepaal watter Walliese span aanstaande seisoen aan die geldryke Kampioenebeker-reeks saam met die keur van Engeland en Frankryk  (agt spanne elk) se topspanne sal deelneem.

Die organiseerders het ʼn plek vir die beste Walliese (of enige ander land) se topspan verskans, al eindig hy nie in die topagt nie.

Wat dus op die spel is vir die Bulls, Glasgow en Edinburg is, is om nie agtste te eindig nie en sodoende die kans aan ʼn Walliese span afstaan om in die Kampioenebeker-reeks te speel.

Die laaste agt spanne speel in die Kampioene-uitdaagreeks saam met Engeland en Frankryk se laaste agt spanne.

Op papier beskou het die Sharks die moeilikste paadjie teen Ulster in Belfast, maar die Stormers en Bulls sal beslis nie eenrigtingverkeer in Wallis hê nie met die toetsspelers weer terug in die tuig nie.

Só lyk die puntelys (topagt) ná Saterdag se wedstryde (onder gespeel, gewen, gelykop, verloor, bonuspunte en ligapunte)

Leinster 17  12  0  5  14  62
Munster 17  11  0  6  12  56
Stormers 17  11  2  4   8   56
Sharks 17  11  1  5  10  56
Ulster 17  11  0  6  11  55
Bulls 17  10  0  7  13  53
Glasgow 17  10  0  7  10  50
Edinburgh 17   9   1  7  12  50

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.