VRK-reeks: Leinster vlek Sharks se leemtes oop

(Foto: Leinster Rugby/Facebook)

Daar sal sommer nog baie water in die see moet loop voordat die Sharks een van die voorste aanspraakmakers in die Verenigde Rugbykampioenskap sal wees.

Dit het Saterdag in Dublin soos ʼn seer oog uitgestaan toe Leinster die Sharks met 34-13 omgedop het.

Dit was die Sharks se tweede opeenvolgende nederlaag op toer nadat hulle verlede Saterdag in Limerick met 34-21 deur Munster geklop is.

Ja, daar was wel versagtende omstandighede, soos dat die Sharks sonder agt van hul Springbok-helde was wat saam met die Springbokke se Wêreldbekerspan in Frankryk was. Dan moes die vurige Vincent Tshituka ná ʼn skouer- en armbesering vervang word.

Dit gaan ook ʼn rukkie neem voordat die “nuwe” afrigter, John Plumtree, se planne om ʼn nuwe aanvallende dimensie aan die Sharks te gee, sal deursyfer.

Maar kyk ook na die teendeel: Leinster was sonder 14 van hul Ierse toetsspelers en Munster moes ook sonder die meeste van sy Ierse toetsspelers klaarkom.

Leinster, wat verlede week in die eerste ronde teen die Glasgow Warriors verloor het, het die nodige verstellings binne ʼn week gemaak en teruggeval op hul gevestigde patroon wat die Iere soveel sukses in die verlede gebring het.

Onthou ook gerus dat Jacques Nienaber, die Bokke se Wêreldbeker-wenafrigter, hom binnekort by Leinster gaan aansluit en dan gaan die poppe behoorlik dans.

Die Sharks het Saterdag ses Springbokke, ʼn Blitsbok en ʼn Skotse internasionale speler in hul groep van 23 gehad. Maar hulle sukkel nou al ʼn paar seisoene lank om bestendig te wees, om die foute te beperk, om die regte besluite te neem, om drieë te druk.

Dit is nog baie vroeg in die seisoen, maar die puntelys is reeds geen goeie leesstof vir Sharks-ondersteuners nie. Hulle is punteloos, tweede laaste en net ʼn kortkop voor die sukkelende Walliese Scarlets.

Ja, dinge kan soos by Leinster binne ʼn week of twee verander, veral wanneer die Sharks huiswaarts keer en yster-Bokke kan inspan. Maar as die Sharks soos teen Leinster of Munster speel, hoe gaan hulle die Stormers of Bulle kan klop?

Puntemakers:

Leinster 34 (12): Drieë: Rob Russell (2), Jordan Larmour, Max Deegan, Tommy O’Brien. Doelskoppe: Harry Byrne (2), Sam Prendergast (1). Strafdoele: Byrne (1).

Sharks 13 (6): Drie: Dylan Richardson. Doelskop: Boeta Chamberlain. Strafdoele: Curwin Bosch (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.