VRK-reeks: Maak die Bulle almal Bokke, lui die liedjie

Argieffoto (Bulls teen Leinster (Foto: GB Jordaan)

Die Bulls se oorwinning van 27-26 oor die Ierse kragreus Leinster in Vrydagaand se halfeindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap in Dublin, kan in die annale op Loftus Versfeld as een van hul beste oorwinnings ooit aangeteken word.

Ja, daar was voorheen 25 roemryke oorwinnings in Curriebeker-eindstryde en daar was die goue era in die Superreeks toe hulle die Sharks in 2007 se eindstryd met 20-19 geklop het, die Chiefs met 61-17 in 2009 se eindstryd verfomfaai het en weer in 2010 toe hulle die Stormers met 25-17 getroef het.

Maar was die kaarte al ooit so gelaai soos Vrydagaand in Dublin?

Hulle het verlede Saterdag eers vir die halfeindstryd gekwalifiseer en moes na Dublin reis, waar hulle net een behoorlike oefening kon inpas.

Maar die Bulls het vasgebyt, Leinster teen die planke gehad en daar gehou voordat hulle die uitklophou geplant het.

Leinster het voor die nederlaag slegs 21 van sy 225 wedstryde in die RDS-stadion verloor. Die beginspan was gelaai met 13 toetsspelers en hulle is ongetwyfeld die keur van Europese rugby.

Leinster het immers die Europese Kampioenebekerreeks sedert 2009 reeds vier keer gewen en was twee keer die naaswenner. Leinster het die Uitdaagbekerreeks een keer gewen, die Verenigde Rugbykampioenskap oorheers en sedert 2002 agt keer gewen en was vyf keer die naaswenner.

Vooraf is die Bulls baie min kans gegun.

Inteendeel, in die Supersport-ateljee voor die wedstryd het selfs Victor Matfield, al is sy hart hoe blou, Leinster die gunstelinge gemaak.

Die Bulls se afrigter, Jake White, het hulle met die seëvierende Barcelona-sokkerspan vergelyk.

Die media het hulle afgeskryf, maar watwou!

As jou span se houding reg is, as jy baie goed afgerig is, as jy jou foute tot ʼn minimum kan beperk en die talentvolle Leinster-span van die doellyn af kan weghou, moet jy saam met die grotes van weleer in die heldesaal opgeneem word.

Maar dink maar daaraan. Hoeveel van die Bulls gaan in Jacques Nienaber (en Rassie Erasmus) se verwagte Springbokgroep van 42 spelers vir die toetsreeks teen Wallis wees. Ses, sewe?

Wie sou slegs ʼn paar maande gelede voorspel het dat Canan Moodie, Madosh Tambwe, David Kriel (en sy plaasvervanger Kurt-Lee Arendse), Harold Vorster, Cornal Hendricks, Chris Smith en Izak Burger die kitaar agterlangs sou slaan?

Wat van Mornay Smith, Gerhard Steenekamp, Johann Grobbelaar, Walt Steenkamp, Ruan Nortjé en die vurige lostrio van Marcell Coetzee, Arno Botha en Elrigh Louw?

En dan die impak wat plaasvervangers soos die jong Janko Swanepoel gemaak het?

Hoeveel van hulle gaan die groen-en-goud dra?

Punte: Bulls 27 (17): Johan Grobbelaar, Marcell Coetzee, strafdrie (7 punte). Doelskoppe:  Chris Smith (2). Strafdoele: Chris Smith, Morné Steyn.  Leinster 26 (14): Drieë: Dan Sheehan, Robbie Henshaw, Rory O’Loughlin, Cian Healy. Doelskoppe: Ross Byrne (2), Johnny Sexton.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

MakersMark ·

Beste vertoning deur ‘n SA span op ‘n oorsese veld (toetse/bok wedstryde nie ingesluit). Dink paar “rugby kenners” bly stil vandag. “Geen SA span sal Leinster in Ierland klop nie” en “hul verloor met 60 teen Leinster”…………..ha ha ha

MakersMark ·

As jy uitklop rugby ken weet jy om met een punt te wen is so goed om met 100 punte te wen. Bulle het ‘n ierse toets span in Ierland geklop sonder enige huidige springbok. En in die kaap ? Was dit nie “net net ” nie ? En op ‘n tuisveld ?

SjN ·

Geluk Bulle, toe verhang jul die bordjies om die onmoontlike te vermag en om as buiteperd die kragtige buitelandse span te gaan wen, hoop die anti Bull ondersteuners se monde is gesnoer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.