Boekbedryf werp alles in stryd teen omstrede kopieregwet

Verskeie pleidooie is aan pres. Cyril Ramaphosa gerig om nié die omstrede Wysigingswetsontwerp op Outeursreg te aanvaar nie. (Foto: iStock)

Verteenwoordigers van die wêreldboekbedryf het onlangs hulle steun aan die Suid-Afrikaanse kunsbedryf verleen deur ʼn pleidooi aan pres. Cyril Ramaphosa te rig om nié die omstrede Wysigingswetsontwerp op Outeursreg te aanvaar nie.

“Skrywers en die hele uitgewers- en boekbedryf staan ​​verenig teen ʼn swak saamgestelde wetsontwerp wat Suid-Afrika se literêre diversiteit en opvoedkundige inhoudsproduksie in gevaar stel,” lui ʼn gesamentlike verklaring wat deur die groep verteenwoordigers uitgereik is.

Dit sluit die Internasionale Skrywersforum (IAF), die Internasionale Federasie van Reproduksieregte Organisasies (IFRRO), die Internasionale Uitgewersvereniging (IPA) en die Internasionale Vereniging van Wetenskaplike, Tegniese en Mediese Uitgewers in.

“Die buitensporige en gebrekkige uitsonderings en beperkings wat in die wetsontwerp aangedui word, sal die vestiging van ʼn regverdige mark vir boeke verhoed. Dit sal ook literêre, opvoedkundige en akademiese werke wat deur kopiereg beskerm word, wesenlik benadeel.”

Hierdie besware sluit aan by teenkanting op eie bodem. Daar is vroeër vanjaar onder meer ʼn petisie deur rolspelers in die Suid-Afrikaanse boekbedryf begin in ʼn poging om te verhoed dat die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg voor die Nasionale Vergadering vir aanvaarding ingedien word.

Argieffoto (Foto: Stevepb/Pixabay)

“Die petisie is baie goed ontvang, en ons is dankbaar dat dit so wyd gesteun en onderteken is. Dit is deur die plaaslike media gedeel, sowel as deur skrywers, uitgewers en mense wat oor die boekbedryf omgee,” sê Catrina Wessels, bestuurder van PEN Afrikaans.

PEN Afrikaans, die Akademiese en Niefiksieskrywersvereniging van Suid-Afrika (ANFASA) en PEN South Africa, in samewerking met die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika (Pasa), het die petisie van stapel gestuur.

Volgens Wessels was dit belangrik dat skrywers die kans en die platform het om hul stemme teen die aanvaarding van die wetsontwerp te laat hoor.

“Of dit op sigself ʼn verskil aan die president se besluit gaan maak, is nie seker nie, maar dit vorm deel van ʼn groter protes uit die kreatiewe bedrywe waarvan die president bewus gemaak word.”

Ondanks die besware van opposisiepartye en grootskaalse teenkanting uit die skeppende bedryf, is die wetsontwerp wel op 29 Februarie ingedien.

Maroela Media het in Maart berig dat die Nasionale Vergadering die omstrede Wysigingswetsontwerp op Outeursreg aanvaar het en dat dit nou ʼn tweede keer op Ramaphosa se tafel lê en wag vir goedkeuring.

Dié einste wetsontwerp is in 2020 die eerste keer na die parlement terugverwys vir hersiening uit kommer dat dit nie aan die Grondwet voldoen nie. ʼn String akademici, uitgewers, skrywersverenigings, regspraktisyns en ander belanghebbendes deel die president se besorgdheid oor hierdie uiters ingewikkelde wysigingswetsontwerp.

Jy kierang nie deur na oudioboeke te luister nie. (Foto: Nicole Lu/Pixabay)

Die wysigingswetsontwerp op outeursreg stel ʼn hibriede model voor wat op kopiereguitsonderings gegrond is en gebruik maak van die sogenaamde “fair use”-beginsel. Die wetsontwerp maak onder meer voorsiening dat inhoud uit rolprente en boeke “binne redelike perke” gereproduseer kan word sonder betaling van tantieme.

“Die voorgestelde implementering van ‘fair use’ is ondeurdag en problematies. ‘Fair use’ is nie ʼn beskrywing van die betrokke wet self nie. Dit is die naam van die term wat in Amerikaanse wetgewing gebruik word. Die probleem hiermee is dat mense dit in ʼn beskrywende sin begin gebruik en dan kan dit op verkeerde wyse as “billike gebruik” geïnterpreteer word.

“Billike gebruik word reeds in die Afrikaanse weergawe van die Wet op Outeursreg gebruik om na ‘fair dealing’ te verwys, wat ook ʼn vertaling van ‘fair use’ kan wees. Daarom word die Engelse term in hierdie geval deurgaans ook in Afrikaans gebruik,” verduidelik André Myburgh. Myburg is ʼn kenner op die gebied van kopiereg. Hy is ook ʼn onafhanklike spesialisregskonsultant wat al amptelik op ʼn paneel van kundiges oor die wetsontwerp gedien het.

Volgens Nicolaas Faasen, uitgewerskonsultant en voorsitter van Pasa se komitee vir regsake, is die vereniging nie teen wysigings van die Wet op Outeursreg gekant nie.

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Elisa Calvet/Unsplash)

“Die voorgestelde wysigingswetsontwerp soos wat tans oorweeg word, is egter nie konstruktief nie, en dit spreek nie daadwerklike probleme en geykte wetgewing aan nie,” meen Faasen.

Hoewel die jongste wetsontwerp intussen gewysig is, blyk dit onvoldoende te wees. Die groot vraag is nou of Ramaphosa die wetsontwerp tog gaan goedkeur, dit ʼn tweede keer na die parlement gaan terugstuur, of na die konstitusionele hof gaan verwys.

“Die problematiese bepalings is steeds daar, en die president se besware is grotendeels nie in ag geneem nie. Dit lyk wel of ons ʼn paar maande sal moet wag om te sien wat gebeur,” sê Wessels.

Intussen behou die skrywersvereniging eers die goeie moed dat die wetsontwerp nie in hierdie vorm wet gaan word nie.

“Ons is deel van ʼn groter koalisie rolspelers wat aanhou met bewusmaking en ʼn beroep op die president om dit nie te onderteken nie. Dit bly belangrik dat die boodskap hom bereik en is dus ʼn geval van ‘aanhou beweeg en geraas maak’, as ek Jan Rabie mag aanhaal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Wat sou die goeie rede wees waarom iemand ‘n ander persoon se skepping herhaal as sou dit syne wees? Sou die wet op outeursreg dus diefstal goedkeur? Indien ek geld uit iemand se rekening trek, sy eiendom uit sy huis neem of sy plaas beset en tot my eie voordeel gebruik, kan dit dan nie ook maar ok wees nie? Sou dit wees omdat mense sonder die talente vir dieselfde intellektuele kapasiteit, vergoeding probeer verkry terwyl dit eintlik iemand anders toekom? Wettiging sou skuldig-voel en -bevinding verhoed, maar die sonde-aspek is ongelukkig nie vir menslike wysigings beskikbaar nie, al sê die bose ook wat.

minnie muis ·

Onthou van die mense wat wette maak , kan self nie eers behoorlik lees nie en daar is heelwat persone wat ander se werk toe eien.
Sal die bedrog ooit stop? SA het een van die beste wet stelsel op papier maar geen politieke wil om dit toe te pas nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.