Boekbedryf begin petisie om skrywers te beskerm

(Argieffoto: Jamie Taylor/Unsplash)

Rolspelers in die Suid-Afrikaanse boekbedryf het ʼn petisie begin in ʼn poging om te verhoed dat die omstrede Wysigingswetsontwerp op Outeursreg op 29 Februarie voor die Nasionale Vergadering vir aanvaarding ingedien word.

Die petisie is deur PEN Afrikaans, die Akademiese en Niefiksieskrywersvereniging van Suid-Afrika (ANFASA) en PEN South Africa, in samewerking met die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika (PASA) van stapel gestuur as deel van ʼn gesamentlike protesaksie teen die aanvaarding van die voorgestelde wetsontwerp op outeursreg.

“Ons doen ʼn dringende beroep op ons lede en ondersteuners om die petisie te onderteken. Ons standpunt is en bly dat skrywers beter verdien as die verreikende verswakking van outeursregbeskerming wat in hierdie wetsontwerp vervat is,” sê Bernard Odendaal, voorsitter van PEN Afrikaans.

Maroela Media het in Mei 2023 berig dat die omstrede wetgewing al sedert 2017 aankom toe vorige openbare sittings oor die wysigingswetsontwerp oor kopiereg in die parlement gehou is.

Die wysigingswetsontwerp op outeursreg stel ʼn hibriede model voor wat op kopiereguitsonderings gegrond is en gebruik maak van die sogenaamde “fair use” beginsel.

Die wetsontwerp maak onder meer voorsiening dat inhoud uit rolprente, boeke ensovoort “binne redelike perke” gereproduseer kan word sonder betaling van tantieme.

Verskeie organisasies, skrywersverenigings, regskenners en dies meer het deurlopend gevoel dat kundiges nie in die proses geraadpleeg is nie en boonop is dit ook nie duidelik wie se belang die wetgewing wil dien nie.

Dit maak uiteraard ook ernstige inbreuk op die inkomstemoontlikhede van kunstenaars en kan die verspreiding en bekendstelling van onder meer boeke, musiek en rolprente in Suid-Afrika nadelig beïnvloed.

“Wat moontlik nou kan gebeur is dat Amerikaanse maatskappye weens die onsekerheid van die ‘fair use’-beginsel in Suid-Afrika nie eintlik baie meer projekte hier van stapel gaan stuur of finansier nie.

“Dit kom neer op ʼn vorm van onteiening sonder vergoeding en kan die media- en verwante bedrywe vernietig,” het Anton Alberts, nasionale voorsitter van die VF Plus, in ʼn vorige onderhoud aan Maroela Media gesê.

Lede van die publiek word aangemoedig om die petisie te onderteken, en dit op sosiale media en elders te versprei. “Die doel is om ʼn groot reikwydte te verseker en skrywers en die groter boekbedryf se stemme te laat hoor.”

Klik hier om die petisie te teken: https://www.change.org/StopTheCopyrightAmendmentBill.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Goldy ·

Julle sien, onteiening gaan nie net oor plase nie maar oor als wat julle het, tot jyself.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.