Parlement aanvaar wysigings op outeursreg ondanks besware

(Foto: iStock)

“Dit is uiters betreurenswaardig dat die wetgewer ten spyte van grootskaalse kritiek van kopieregkenners en opregte sorg van Suid-Afrika se skrywers wat vir hul brood en botter op outeursreg staatmaak, kies om bloot voort te gaan met hierdie wetsontwerp.”

So sê Bernard Odendaal, voorsitter van PEN Afrikaans, oor die Nasionale Vergadering se aanvaarding van die omstrede wysigingswetsontwerp op outeursreg.

Dié wetsontwerp is gister (29 Februarie) ingedien. Dit blyk egter of besware van opposisiepartye en grootskaalse teenkanting uit die skeppende bedryf op dowe ore geval het.

Maroela Media het vroeër berig dat die wysigingswetsontwerp op outeursreg ʼn hibriede model voorstel wat op kopiereguitsonderings gegrond is en gebruik maak van die sogenaamde “fair use” beginsel.

Die wetsontwerp maak onder meer voorsiening dat inhoud uit rolprente en boeke “binne redelike perke” gereproduseer kan word sonder betaling van tantieme.

Verskeie organisasies, skrywersverenigings en regskenners het gevoel kundiges is nie in die proses geraadpleeg nie en boonop is dit ook nie duidelik wie se belang die wetgewing wil dien nie.

ʼn Petisie is die afgelope week begin in ʼn poging om ʼn stokkie voor die aanvaarding van die wysigingswetsontwerp op outeursreg te steek.

Dit is deur PEN Afrikaans, die Akademiese en Niefiksieskrywersvereniging van Suid-Afrika (ANFASA) en PEN South Africa, in samewerking met die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika (PASA) van stapel gestuur as deel van ʼn gesamentlike protesaksie teen die aanvaarding van die wetsontwerp.

In minder as ʼn week het meer as 4 200 mense die petisie onderteken, wat van die land se voorste skrywers insluit.

Ondanks die somber uitkoms en al hoe minder uitkomkans, is PEN Afrikaans nie van voorneme om terug te deins nie.

“Dit bly vir ons ʼn saak van erns om, in belang van ons lede en die groter Suid-Afrikaanse boekbedryf, die stem van skrywers te laat opklink hieroor. Ons beoog om aan te hou om juis dit te doen,” sê Odendaal.

Die wetsontwerp sal soos in 2020 die geval was, nou weer na pres. Cyril Ramaphosa vir ondertekening verwys word. Indien hy steeds besorgd is oor die grondwetlikheid van sekere bepalings daarin, kan hy dit na die Konstitusionele Hof verwys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.