VRK-reeks: Nog pure plesier vir die Lions

Toe die rugbybase van die Verenigde Rugbykampioenskap verlede jaar besluit het om vier Suid-Afrikaanse spanne van dié seisoen af in ʼn nuwe reeks te laat speel, het hulle sekerlik nie voorsien watter tsoenami die Walliese, Italiaanse, Skotse en Ierse spanne sou tref wanneer hulle in Suid-Afrika speel nie.

Hulle het dalk die hoop daarop gevestig dat veral die Lions papiertiere sou wees nadat hulle swak oorsee vertoon en middelmatig in die plaaslike derbies gevaar het.

Maar hulle is heeltemal onkant betrap deur al vier spanne, waaronder die Lions, wat Saterdag op Ellispark hul vierde opeenvolgende sege behaal het deur Edinburgh, gelaai met Skotse internasionale spelers, met 15-9 te troef.

Dit was mos pure plesier!

Van al die oorsese spanne kon nog net Edinburgh een keer op toer wen toe die Skotte die Sharks verlede Saterdag (op ʼn sopnat veld) geklop het.

Die Lions se oorwinning was stroopsoet, want hulle het die seisoen al baie deurgeloop. Boonop het hulle die Skotte van hul doellyn af weggehou en twee drieë gedruk.

Daar is gesê dat hul vaardighede nie na wens is nie, dat hul voorspelers nie hul man sou kon staan nie en dat die span swak afgerig is.

Boonop is die span Donderdag deur Covid-19 ontspoor toe die kaptein, Burger Odendaal, en die vurige haker Jaco Visagie platgetrek is.

Maar dit het geen verskil gemaak nie, want die Lions het gebrul … en sommer baie hard ook.

Jongelinge soos Quan Horn, Edwill van der Merwe (hoe kon die Kaap hom deur hul vingers laat glip het?), Jordan Hendrikse en Morne van den Berg het agterlangs geskitter en al die regte dinge op volle vaart gedoen. Hulle het hoë skoppe gejaag, hulle het die bal wyd gespeel en soos hardebaarde vertoon.

Voorlangs was JP Smith, Pieter Botha, Reinhard Nothnagel, Ruben Schoeman, Francke Horne en die twee Tshituka-broers, Vincent en Emmnuel, ysters.

Die Lions het gemaal, gedryf, gehol en getêkkel. Dis net jammer dat daar so ʼn klein skare op Ellispark was, want die Lions se brul is terug.

Punte:

Lions 15: Drieë: Jordan Hendrikse, Vincent Tshituka. Doelskop: Hendrikse. Strafdoel: Hendrikse.

Edinburgh 9: Strafdoele: Emiliano Bofelli (2). Skepdoel: Henry Immelman.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.