VRK-reeks: Stormers knoop Lions se sterte

Die Stormers het Saterdagmiddag op Ellispark hul wedstryd teen die Lions in die Verenigde Rugbykampioenskap met 32-10 (bonuspuntsege) gewen (Foto: SA Rugby Magazine, Twitter)

Daar heers groot opwinding in Kaapse rugbykringe oor die oplewing van die Stormers, maar daar hang ʼn donker wolk van onsekerheid op Ellispark oor die Lions.

Die Stormers het Saterdagmiddag op Ellispark hul wedstryd teen die Lions in die Verenigde Rugbykampioenskap met 32-10 (bonuspuntsege) gewen nadat die besoekers rustyd met 10-3 voor was.

Die Lions het in die eerste helfte onseker voorgekom, hulle het heelwat ongedwonge foute begaan en ʼn paar duikslae gemis. Dit het byna gelyk asof hulle vir die Stormers gewag het om leiding te neem en dan om foute te begaan.

In die tweede helfte het sake beter begin gaan, want die Lions het die juk van onsekerheid afgeskud. Hulle het eers in die 52ste minuut hul eerste daadwerklike fasespel uitgestal en na links en regs geslaan, maar net om die besit af te staan. Die Stormers het dit uitgebuit en dit het tot ʼn drie deur Sergeal Petersen gelei wat byna op hul eie doellyn begin is.

Hoekom moet die Lions bekommerd wees? Want hul kanse om na die uitspeelrondes van die VRK-reeks deur te dring is na alle waarskynlikheid daarmee heen.

Maar wat ook kommerwekkend is, is dat hulle sonder selfvertroue is (altans so kom dit voor) en daar lê nog baie wedstryde voor.

Vir die Stormers was die vertonings van die afgelope maand baie bemoedigend.

Vra maar die Bulls, Sharks en nou ook die Lions.

Daar is ʼn groot opwaartse kurwe en hulle speel met al groter selfvertroue en passie.

Die uitblinkers was Warrick Gelant, Seabelo Senatla, Damian Willemse en Mannie Libbok agterlangs, terwyl die veteraan Deon Fourie die Lions se besit in die los verwoes het.

Fourie is welverdiend as Speler van die Wedstryd aangewys, want hy neem ook die leiding om die jonger spelers selfvertroue te gee.

Daarby het die Stormers se Springbokstut Steven Kitshoff oudergewoonte baljaar, Marvin Orie het sy lynstaanballe gewen en die skrum het stewig gestaan

Punte: Stormers 32 (10): Drieë: Hacjivah Dayimani, Seabelo Senatla, Sergeal Peterson, Deon Fourie. Doelskoppe: Manie Libbok (3). Strafdoele: Libbok (2).

Lions 10 (3): Drie: Morne van den Berg. Doelskop: Jordan Hendrikse. Strafdoel: Tiaan Swanepoel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

piet ·

Mooi manne. SA se top span in die reeks, bankkrot en al. Dink net hoe goed sou ons wees as ons links en regs spelers kon aankoop soos die nulle en $hark$

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.