Vrystaat Cheetahs trek Pumas se naels uit

Foto: @VodacomRugga/Twitter

As die Vrystaat Cheetahs kan voortbou op die spel wat hulle Saterdag in Bloemfontein in die eerste helfte van die Superrugby Unlocked-reeks teen die Pumas uitgestal het, gaan daar baie rooi gesigte in Suid-Afrikaanse rugby wees.

Maar as die Cheetahs nie daarop kan voortbou nie en soos in die tweede helfte speel, hoef die rugbybase nie te onrustig te slaap nie nadat hulle die Cheetahs van hul Pro14-status gestroop het.

Die Cheetahs het die Pumas met 53 – 31 geklop nadat hulle rustyd reeds met 41 – 3 voor was.

In die eerste helfte was dit ʼn drieëfees om te onthou, want alles is op volle vaart gedoen en die ses drieë wat Malcolm Jaer (2), Rosko Specman (2), Junior Pokomela en Ruan Pienaar gedruk het, was kroonjuwele.

Die voorspelers het heeltemal oorheers en die flinkvoetige agterspelers het gebaljaar.

Die vonk is deur Pienaar (36) en Frans Steyn (33) aangesteek en die ervaring van 155 toetse wat hulle saam vir die Bokke gespeel het en byna 400 ander wedstryde hier, in Ierland, Brittanje, Frankryk, Italië, Australasië en in Japan was goud werd.

Teen rustyd het die Vrystaat se afrigter, Hawies Fourie, gesê hulle wil hou by die wedstrydplan, maar toe haal hulle die voet van die pedaal af.

Ewe skielik het die Pumas vlamgevat, beter verdedig, met baie meer selfvertroue gespeel en die voorspelers het hul man gestaan. Op die ou einde het hulle vier drieë gedruk en die tweede helfte met 28 – 12 “gewen”.

Kom ons wees eerlik, in dié stadium van die seisoen is dit onregverdig om te verwag dat die Vrystaat met hul ondernemende spel sou kon volhou.

Namate die wedstryd gevorder het, het hulle al hoe meer strafskoppe begin afstaan, wat tekenend van moegheid was.

Die Pumas kan tevrede met hul vertoning in die tweede helfte wees, maar hulle gaan klippe kou teen die Superrugby-grotes as hulle soos in die eerste helfte speel.

Vir die Cheetahs was dit net die regte medisyne.

Kyk na die video van die eerste helfte en bou daarop. Vergeet van die tweede helfte behalwe om slae uit deel.

Puntemakers:

Cheetahs 53 (41):

Drieë: Malcolm Jaer (3), Rosko Specman (2), Junior Pokomela, Ruan Pienaar, William Small-Smith. Doelskoppe: Pienaar (5). Strafdoel: Pienaar.

Pumas 31 (3):

Drieë: Ginter Smuts, Daniel Maartens, Le Roux Roets, Neil Maritz. Doelskoppe: Eddie Fouche (4). Strafdoel: Fouche.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.