Walliese rugbyspeler in die sop oor kokaïen

rugbypale

Argieffoto.

Merthyr-rugbyklub se Adam Hoskins is vir twee jaar uit alle sport geskors nadat hy positief vir die gebruik van kokaïen getoets het. Hy is die vierde Walliese speler die afgelope maand wat weens dwelmmisbruik in die sop is.

Volgens Wales Online het Hoskins positief vir die dwelm getoets nadat ’n urienmonster op 3 Januarie geneem is.

In sy verweer het die speler aangevoer dat hy op 28 Desember 2019 (ses dae vóór Merthyr se volgende wedstryd) gedurende ’n sosiale geleentheid saam met vriende begin drink het. Die kuiersessie het later tot die kokaïen-voorval gelei.

Hoskins het gesê dat die voorval nie ’n invloed op sy speelvermoë gehad het nie. Maar volgens Stacey Cross van UK Anti-Doping (UKAD) is daar ’n fyn lyn tussen ’n goeie tyd by ’n partytjie en ’n sportman se sosiale verantwoordelikheid.

“Wanneer atlete besluit om dwelms te gebruik, loop hulle nie net die gevaar om die wet te oortree nie, maar ook om op die sportveld geskors te word,” het Cross gesê.

“Selfs al word dit buite kompetisieverband gebruik, kan hulle geskors word as toetse bevind dat die dwelm nog in hul sisteem is.”

Hier ter plaatse wag die Springbok-blits Aphiwe Dyantyi om sy lot vir die gebruik van verbode middels te hoor.

Die 26-jarige het op 2 Julie 2019 ’n urienmonster tydens ’n Springbokoefenkamp ingedien wat positief vir verbode middels getoets is.

Hy het egter uit die staanspoor aangevoer dat hy onskuldig is wat die gebruik van anaboliese steroïede betref. Hy het onder meer gesê dat hy in harde werk en regverdige spel glo.

“Ek het nog nooit verneuk nie en sal ook nie,” het hy in ’n verklaring gesê. Die uitslag van sy B-urienmonster was egter óók positief.

Volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids) is Dyantyi se verhoor uiteindelik afgehandel en ’n onafhanklike paneel sal nou beraadslaag en binne die volgende paar weke ’n beslissing gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.