Was Jake reg met sy spankeuse teen die Saints?

Jake White. (Foto: Twitter/Bulls.)

Wie onthou nog die datum 14 Julie 2007 toe die destydse Springbokafrigter Jake White nie sy beste span vir die Drienasies-toets teen die All Blacks gekies het nie en met 33-6 afgeransel is in Christchurch?

In dié toets was slegs JP Pietersen en Wikus van Heerden in die span wat slegs ʼn paar weke later die Wêreldbekertoernooi gewen het toe hulle Engeland in die eindstryd geklop het.

White se plaasvervangersbank teen die All Blacks het veral die oë laat rek, met Gary Botha, Eddie Andrews, Gerrie Britz, Hilton Robberts, Michael Claassens, Peter Grant en Tonderai Chavhanga wat ingespan is.

Was dit die moeite werd om die beste Bokke vir die wegtoetse tuis te laat rus?

Ja, want die Bokke was beseringsvry en uitgerus vir die Wêreldbeker-toernooi.

Was dit in die gees van die spel?

Besluit maar self.

ʼn Week of wat gelede het White, wat nou die Bulls in die Verenigde Rugbykampioenskap en Europese Kampioenebekerreeks afrig, die Europeërs warm onder die kraag gehad toe hy 13 veranderings aan die span aangebring het wat Lyon op Loftus Versfeld geklop het, vir die kwarteindstryd van die Kampioenebekerreeks teen die Northampton Saints in Northampton.

Die Bulls, wat terloops ʼn verswakte Lyon met 59-19 geklop het om tot die kwarteindstryd deur te dring, het met die onsinnige reisreëling en beserings aan verskeie spelers maar min kans gehad om die Saints te klop.

White is weer in die spervuur oor sy spankeuse, maar die speelveld is ongelyk.

Neem maar die voorbeeld van La Rochelle, verlede seisoen se kampioen, wat die dure prys betaal toe hulle die Stormers in Kaapstad met 22-21 geklop het en toe na Cork in Ierland moes reis om Leinster in die kwarteinronde in Dublin te pak.

La Rochelle was vuisvoos en is met 40-13 ore aangesit.

Die EPCR-base het ʼn skrywe aan die Bulls en die Suid-Afrikaanse rugbybase gerig om agter die kap van die byl te kom waarom White nie sy beste spelers teen die Saints ingespan het nie.

Maar daar sal weinig van kom, want hoekom is Lyon se spankeuse ook nie bevraagteken nie?

Ja, die Europese Kampioenebekereeks is die gans wat die goue eiers lê in Europese rugby.

Al wat al die partye tevrede sal hou, is dat daar ʼn week se ruskans tussen die laaste groepwedstryde en kwarteindronde sal wees.

Dit word in die Sesnasiesreeks gedoen en hoekom nie ook nie in Kampioenebeker-reeks nie?

Gee die spelers behoorlike ruskans en dan kan daar tereg vrae aan White gestel word en antwoorde versoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

kragaap ·

Bulle kon die een deurgehak het maar swak dissipline en wedstryd bestuur het hul die wedstryd gekos. Ten spyte daarvan nog die beste posisie op die ranglys.

SjN ·

Dit gebeur as jy nie jou beste spelers kies nie Mr Jake. Dit is mos oor en oor bewys, kan nie dobbel in kwart en semi finale nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.