Wát ’n klipharde wedstryd!

Wallis se Josh Adams probeer om ’n drie vir sy span te druk.. (Kyodo News via AP)

Daar is aksieflieks met akteurs soos Tom Cruise, Dwayne Johnson, Gerard Butler en Clint Eastwood in die hoofrolle, maar vandag in Japan was 30 rugbyspelers van Wallis en Fidji die hoofspelers in hul eie aksiebelaaide treffer.

Want goeiste, hierdie kragmeting was sonder enige twyfel die toegangskaartjie en springmielies werd en terselfdertyd ’n vertoonvenster vir klipharde rugby. En o ja, al 30 akteurs op die veld het hul eie waaghalstoertjies uitgevoer; vergeet maar van daardie oorbetaalde Hollywoodse waaghalse wat die akteurs so oppiep!

Wallis het uiteindelik (met ’n bonuspunt) 29 – 17 gewen nadat hulle vroeg in die wedstryd 0 – 10 agter was.

Die Rooi Drake se Josh Adams het drie drieë vir sy span gedruk en veral sy samespel met Jo Davies (buitesenter) het vir vuurwerke gesorg. Tog sal Warren Gatland bekommerd wees oor die beserings wat sleutelspelers soos Dan Biggar en die einste Davies opgedoen het.

Hoewel Fidji nie altyd wen nie – hulle het byvoorbeeld vroeër in die toernooi teen Uruguay verloor – kan teenstanders dit aan hul lywe voel wanneer hulle teen die klipharde eilandmanne speel.

Semi Radradra was ’n stoomtrein en Wallis moes bontstaan om hom plat te trek. Dié reusevleuel is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys en hy het gereeld veldgebied vir sy span gewen, terwyl hy ook vir Liam Williams katswink geduik het.

Dan Biggar is weer eens in ’n wedstryd beseer. (AP Photo/Aaron Favila)

Die eilandmanne spog met ’n spul individuele sterre en die Walliese verdedigers moes hul storie ken om hulle te stuit. Teen die 70ste minuut moes die Rooi Drake reeds 101 duikslae uitgevoer het; daarteenoor moes die eilandmanne net 67 keer hul verdedigingsvaardighede uitgestal het.

Maar soos altyd het die dissipline in ’n Fidji-wedstryd gelol, maar Wallis het onder die skitterende leiding van Alun Wyn Jones as ’n eenheid saamgespeel.

Fidji is weliswaar uit die toernooi geskakel, terwyl Wallis met stampe en stote vorentoe na die kwarteindstryd gebeur het; maar dié twee spanne het vandag vir een van die hardste wedstryde in die toernooi gesorg.

  • Tans lyk sake in Groep D só:
  1. Wallis: drie gespeel, 14 punte
  2. Australië: drie gespeel, 11 punte
  3. Fidji: vier gespeel, sewe punte
  4. Georgië: drie gespeel, vyf punte
  5. Uruguay: drie gespeel, vier punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Koos ·

regtig maroelamedia – Australie 3 gespeel en 14 punte – swak swak swak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.