Wat van moederklubs en voederklubs?

rugbyball-300x201Daar is baie rugbytalent aan die KwaZulu-Natalse Suidkus en as `n mens dit in een klub kan saamsnoer, kan daardie klub ver vorder.

Dié versugting het Christo Henderson, die hoofafrigter van South Coast Warriors op Uvongo, ná afloop van verlede seisoen teenoor Pale Toe! uitgespreek.

Behalwe die strewe om mededingender te wees, is daar `n sterk ekonomiese beweegrede waarom baie klubs hul kragte behoort saam te snoer.

Dalk die belangrikste vraag wat beantwoord moet word: hoeveel van hierdie stede en dorpe – om nie eens van die klein dorpies en gehuggies te praat nie – se ekonomieë kan werklik soveel spanne dra as dit by sake soos borgskappe en hekgeld kom?

Ongeag of dit `n beroeps- of amateurklub is, kos dit vandag letterlik `n plaas se geld om `n rugbyklub behoorlik te bedryf. Die skep en instandhouding van geriewe is een van die grootste kostefaktore en amateurklubs moet eweneens hiervoor die hand diep in die sak steek.

Die beskikbare spelerspoel is insgelyks beperk en hoe meer klubs binne `n bepaalde gebied daarop aanspraak maak, hoe swakker is elke individuele klub. Dit geld eweneens die talent, kundigheid en daadkrag waaroor doeltreffende bestuurslui moet beskik asook die gehalte van afrigters en skeidsregters.

Is dit regtig sinvol dat `n munisipale gebied soos Oudtshoorn, byvoorbeeld, met sowat 15 360 mans tussen die ouderdomme 20 en 34 (2011-sensus) minstens 12 klubs, versprei oor drie ligas, in die veld stoot?

Vergelyk dit, ook byvoorbeeld, met die metropool Tshwane wat 32 keer soveel mans van rugbyspelende ouderdom (oor die 490 000), en vergelykenderwys net sowat 25 klubs het.

Groter wanbalans

Die wanbalans is selfs groter as dit by die ekonomiese omgewing kom. Tshwane se Bruto Plaaslike Produk (BPP) van R200 miljard is `n duiselingwekkende meer as 87 000 keer soveel as dié van die streek waarin Oudtshoorn, val wat in 2011 R2,297 miljoen beloop het.

En die Tshwane-klubs kan daarvan getuig dat selfs in dié oënskynlike ekonomiese oorvloed dit geen maklike taak is om voldoende en veral volhoubare borgskappe te kry nie.

In dié opsig is die samesmelting van twee van die stad se oudste en roemrykste klubs, Harlequins en Pretoria Polisie `n klinkklare bewys.

Wat dan nog te sê van Ceres met `n totale bevolking van `n raps meer as 33 000 mense en `n stuk of vyf klubs (daar was boonop onlangs nog ook een met die ironiese naam “Verenigde” Ceres), of Riversdal met 16 000 mense en drie klubs, of Bedford met minder as 9 000 mense en twee klubs – om bloot `n paar te noem.

Skinderstories

Minder, sterker klubs kan rugby in Suid-Afrika bloot tot voordeel sterk, maar daar is verskeie faktore wat samesmelting teenwerk. Party klubs het eenvoudig `n langer en dieper gewortelde tradisie as ander (maar Bobbies en Quins toon dat werklikhede soms swaarder weeg); afstande en vervoerkoste is `n belangrike beweegrede; maar soms is dit bloot persoonlike geskille en dalk selfs `n geknogtheid aan byvoordele soos kaartjietoekennings vir groot wedstryde, partytjies, en dies meer wat in die weg staan. Gegewe die intense aard van rugbypolitiek moet stemreg op provinsiale vlak ook nie uit die oog verloor word nie.

`n Mens wil glo dat die hardnekkige gerugte blote skinderstories is dat die “maklike” manier waarop sportklubs in `n bepaalde bond dranklisensies kry tot klubstigting deur misdaadbendes lei!

Terloops, die internet dui aan dat een van die oorspronklike klubs op Guatamalala – wat pas die Suid-Amerikaanse Senior C-kampioenskap die tweede opeenvolgende jaar gewen het – onder meer weens “ideologiese verskille” twee splinterklubs opgelewer het. Behoede Suid-Afrika daarvan!

Om tot `n punt te kom: is dit nie `n uitweg om `n slag `n model van moeder- en voederklubs op die proef te stel nie?

Omskep die sterkste of bes gevestigde klub in `n gebied in `n “moederklub” en laat die klub toe om topspelers uit die “voederklubs” in sy gebied te kies om hom mededingender te maak binne die hoër liga waarin hy noodwendig sal speel.

Diepte

Bloot as voorbeeld sal dit in die geval van die KwaZulu-Natalse Suidkus daarop neerkom dat South Coast Warriors, wat in die KZN Premierliga speel, op die knoppie van topspelers in die ander klubs in sy omgewing kan druk. Dit sal veral die probleem met genoegsame diepte by amateurklubs ondervang.

Dis g’n nuwe gedagte nie, maar `n gebruik wat, byvoorbeeld, jare lank voor die koms van streekspanne in Walliese rugby gegeld het. Die klub Swansea se gepubliseerde geskiedenis dui onder meer op die belangrike rol wat spelers van die Universiteit van Swansea se klub in die moederklub se span gespeel het.

`n Stelsel van moeder- en voederklubs sal `n stelsel van dubbele lidmaatskap noodsaak, maar ook dit is niks nuuts nie. Die Engelse Rugbyunie (RFU) bedryf `n stelsel – omgekeerd van bogenoemde – waarkragtens spelers van die Premierklubs ook vir klubs in die tweedevlak Engelse Kampioenskap kan speel.

Skotland het op sy beurt `n stelsel waarin die beroepspelers van die klubs Glasgow Warriors en Edinburgh asook die Skotse sewesspan tussen die klubs in die Skotse Premierliga verdeel word, en vir dié mag speel wanneer hul gekontrakteerde klubs hulle nie nodig het nie.

Geslote ligas?

Terug op die plaaslike toneel kyk `n mens insgelyks, byvoorbeeld, na die Boland waar baie van die klubs slegs een span het.

Waarom nie hierdie klubs in `n geslote liga onder die vleuels van die omgewing se “moederklub” saamtrek nie?

Dié beginsel is in die amateurera met groot sukses in klubs van die destydse Noord-Transvaalse Rugbyunie (NTRU) toegepas. Dit het veral spanne ingesluit wat in werkverband saamgesnoer is, en het as `n gesonde voedingsbron vir die moederklubs gedien.

Niemand wil enigiemand die geleentheid ontneem om rugby te speel nie, maar dis in die spel se belang om oor minder, maar sterker klubs met groter diepte te beskik, eerder as `n oorvloed swakker klubs.

Kopskuif

Rugby bly ewe lekker, indien nie lekkerder nie of `n mens nou ookal vir `n sterk vierde span of vir `n swak eerste span speel.

Afstande en vervoer is seker die enigste “geldige” bestaansrede vir baie van die eenspanklubs en selfs in hierdie opsig kan verpoelde bronne dalk die oplossing bied.

Toegegee, dit sal `n haas onoorkomelike kopskuif verg om `n stelsel van moeder- en voederklubs in Suid-Afrika te verwesenlik, maar rugbylui sê alte graag “mag rugby wen”.

Hoe opreg is hul bedoeling daarmee?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae