‘Wat van sir Jonny?’

Jonny Wilkinson. Foto: Phillipe Lopez/AFP.

Lewis Hamilton is verlede Woensdag, kort ná die dramatiese finale F1-ronde in Abu Dhabi, amptelik deur Prins Charles tot ridder geslaan.

Nou berig Ruck.co.uk dat Engelse rugbyondersteuners begin brom dat Jonny Wilkinson ook ’n sir-skap verdien.

Die 42-jarige voormalige losskakel het 1 179 punte vir Engeland in 91 toetse aangeteken terwyl hy ’n sleutelrol in hul suksesvolle Wêreldbeker-veldtog in 2003 vertolk het.

Hy het ook ses wedstryde vir die Britse en Ierse Leeus gespeel.

Sir Clive Woodward, wat Engeland se afrigtersleisels vasgehou het toe Wilkinson en kie destyds die Webb Ellis-trofee in Australië omhoog gehou het, meen dat dié losskakel een van die beste nóg is.

In een van sy rubrieke het die oudafrigter vir Wilkinson met Nieu-Seeland se Dan Carter vergelyk. En dit was geen verrassing dat die Engelse speler sy gunsteling is nie.

“Ek dink hul stelskopwerk is ewe goed. Dan is egter die beste aanvallende losskakel nóg en Jonny was die beste op verdediging. As jy my egter in ’n blik druk… dan sou ek vir Jonny kies. Maar ook net-net.

“Ek het die voorreg gehad om Jonny ses jaar lank af te rig en ek ken sy spel baie goed,” het Woodward geskryf.

Vir die meeste Engelse rugbyondersteuners is dit ’n uitgemaakte saak dat Wilkinson die titel verdien.

“Hoe is dit moontlik dat Jonny Wilkinson nie al tot ’n ridder geslaan is nie? Hy het immers duisende mense regoor die wêreld geïnspireer om rugby te speel,” het een ondersteuner getwiet.

  • Wilkinson se naam het al vantevore in koerante vir ’n moontlike ridderskap verskyn, maar hy is tot op hede oor die hoof gesien.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.