Watter span gaan uit die bed klim?

Wanneer die Franse rugbyspan deur die land toer, moet jy maar asem ophou.

Toere kom en gaan, maar wanneer die Franse speel, kan jy maar verseker wees iets sal gebeur, nie as nie, maar wanneer.

Dink maar terug aan 1958 toe hulle die eerste keer kom toer het, en die eerste toerspan sedert 1896 geword het om die Springbokke in ʼn toetsreeks tuis te klop. Gelykop met 3-3 op Nuweland, en ʼn sege van 9-5 op Ellispark. Wat van die plofbare twis met die Suid-Afrikaanse skeidsregters oor wat ʼn laatvat is of nie is nie?

Dink maar terug aan die berugte toets van 1964 toe hulle die Bokke op Springs met 8-6 getroef het, om die tuisspan steeds ʼn “reeks”-oorwinning tuis teen Frankryk te ontsê.

Dink maar terug aan die bakleiwedstryd teen Griekwas in 1967, en dieselfde toer toe Frik du Preez vir Alain Plantefol reg voor die hoofpawiljoen reggesien het; hoe die kleine Roger Bougarel (die eerste swart speler wat deur die land getoer het) in 1971 aan Du Preez gerem het, en hom by die kantlyn uitgeboender het. Hoe die tweede toets ʼn slagveld was en die spelers in drie groepsgevegte betrokke was.

Die eerste het langer as ʼn minuut geduur en daar is geskop en geslaan, geskop en geslaan.

Dink maar terug aan die “aandtoets” in die middel van die somer (November) in 1980. Dit was destyds ongehoord.

Hare afgeskeer

Dink maar terug aan 1993 toe Garry Pagel die Franse kaptein, Jean Francois Tordo, in die gesig getrap het in ʼn wedstryd vir die Westelike Provinsie kort voor die eerste toets. Tordo se toer en internasionale loopbaan was daarmee heen.

Dink maar terug aan die vlugvoetige agterspelers soos Jo Maso, Roland Bertanne en Phillipe Sella, dink maar aan hardebaard-voorspelers soos Benoit Dauga, die Spanghero-broers, Laurent Cabannes, Abdelatif Benazzi en Olivier Roumat.

Dink maar terug aan 1995 toe die Franse Wêreldbekerspan almal hul hare afgeskeer het. Dit was ʼn nagmerrie om die spelers aan die begin uit te ken, maar soos hul hare gegroei het (net soos ʼn Simson van ouds vanwaar die idee vandaan gekom het) het hulle al hoe beter begin speel en al hoe meer herkenbaar geraak.

Dié span hou natuurlik vol dat hulle die Bokke in die halfeindstryd op ʼn sopnat Kingpsark geklop het, hoewel die telling 20-15 in die Bokke se guns was.

Kluts kwyt

Dink maar terug aan jong en onervare Franse spanne wat die Bokke al verras het, dink maar terug aan ervare spanne wat heeltemal die kluts kwyt was.

Die Franse toerspan vir die komende toer van drie toetse is Sondag gekies en ʼn mens weet nie wat om te verwag nie. Wat wel waar is, is dat daar ʼn paar monster-voorspelers gekies is wat die Bok-voorspelers deeglik sal toets. Daar is ʼn paar jong en vlugvoetige agterspelers wat die Bokke se agterlyn kan laat bontstaan.

Gaan hulle hardloop, gaan hulle skop, gaan hulle in hul doppe kruip?

Maar soos Sella, wat in 111 toetse gespeel het, altyd ʼn ou uitdrukking gebruik het: “Die enigste voorspelbaarheid van ʼn Franse span is sy onvoorspelbaarheid. Dit hang net daarvan af watter span die oggend uit die bed klim.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gert ·

Moet asb nie die hane onderskat nie. Ek het gister teen hulle gespeel op die PS3 en hulle het die bokke 38-18 geklop…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.