WB-opwarmtoets: Skotte gee Franse gryshare

Skotland se Jamie Ritchie (tweede van links), Frankryk se Bastien Chalureau (middel) en Paul Boudehent van Frankryk (links) tydens die opwarmtoets by die Geoffroy-Guichard-stadion in Saint-Etienne (12 Augustus 2023) (Foto: Jeff Pachoud/AFP)

Een van die Springbokke se grootste slaggate by vanjaar se Wêreldbekertoernooi in Frankryk gaan dalk nie Ierland, Frankryk of die All Blacks wees nie, maar Skotland in hul openingswedstryd op Sondag, 10 September in die Stade de Marseille.

Dít het die Skotte Saterdagaand in die Geoffroy-Guichard-stadion Saint Etienne in Parys gewys toe hulle weliswaar met 30-27 deur die Franse in ’n WB-opwarmtoets geklop is, maar vier drieë gedruk en baie veggees gewys het.

Die Franse was Saterdagaand kort ná rustyd met 27-10 voor. Met net tien minute oor, was die wedstryd teen alle verwagtinge in gelykop, voordat Thomas Ramos met ʼn strafdoel die Skotte gekelder het.

In vanjaar se Sesnasies het die Skotte ook teruggeveg ná ʼn agterstand van 19 punte en byna die Franse geskok. Verlede Saterdag in Edinburg was die Skotte rustyd met 18 punte agter, maar het hulle na die hoogste rat oorgeskakel en die Franse geklop.

Ja, dit was dalk nie die Franse se beste span nie, want die afrigter, Fabian Galthie, het 13 veranderings aan sy span aangebring wat verlede week verloor het.

Saterdag was sy keurspelers in die beginspan en moes hulle ook baie diep delf om die begeesterde Skotte in toom te hou.

Die Skotte het dalk nie die Franse of Bokke se fisieke brekers nie, maar hulle is goed afgerig, hul tegniek is baie goed en met hul verdediging en aanval skort daar baie min.

ʼn Mens wonder hoeveel van Blair Kinghorn, Kyle Steyn, WP Nel, Stuart McInally, George Turner, Javan Sebastian, Jamie Bhatti en Josh Bayliss die huidige Springbokgroep sou haal, maar laat hulle “Flower of Scotland” sing en hulle veg in ʼn hoër gewigsafdeling.

Dalk is daar ook ʼn gebrek aan selfvertroue, om te glo dat hulle die grotes kán klop en nie net om uit die laaste loopgraaf terug te veg nie.

Nietemin behoort die Skotte hul man in die WB-toernooi te staan en moenie verbaas wees as hulle vir ʼn skok of twee sorg nie.

Uit Franse oogpunt was die vertonings van Thomas Ramos, Romain Ntamack, Damian Penaud, Antoine Dupont, Cameron Woki, Charles Ollivon en Gregory Aldritt verblydend.

Hulle speel met passie en het krag, vaart en flair en boonop het hul dissipline gehou.

Puntemakers: Frankryk 30 (13): Drieë: Romain Ntamack, Damian Penaud, Charles Ollivon. Doelskoppe: Thomas Ramos (3). Strafdoele: Ramos (3).

Skotland 27 (10): Drieë : Kyle Steyn (2), Duhan van der Merwe, Rory Darge. Doelskoppe: Finn Russell (2). Strafdoel: Russell.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

kragaap ·

Skotte het lekker rugby gespeel met 5 “Suid Afrikaners” in die span.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.