Wêreldbeker ʼn ‘briljante’ geleentheid vir Rose – Farrell

Engeland se Owen Farrell. (Foto: Gabriel Bouys/AFP.)

Ondanks ʼn nederlaag van 20 – 9 in ʼn Wêreldbeker-opwarmingswedstryd teen Wallis, meen Owen Farrell dat Engeland op koers vir die komende rugbyskouspel in Frankryk is.

“Ons is opgewonde oor die toernooi en dit is ʼn briljante geleentheid vir ons, tog fokus ons nou net daarop om ʼn beter rugbyspan te word,” het Engeland se kaptein gesê.

Die Rose se Wêreldbekergroep is Maandag bekendgemaak en volgens Farrell kan die spelers hulself nou meer as vantevore op hul beterword-droom toespits.

“Uitkloprugby gaan oor ʼn span se vermoë om druk te hanteer. Daar is nou baie meer oë op die spelers en ons moet op die dinge konsentreer wat binne ons beheer is; eksterne faktore maak nie rêrig saak nie.”

Engeland is in Groep D van die Wêreldbeker en hulle sal onder meer teen Argentinië, Japan, Samoa en Chili te staan kom.

“Die droom is altyd om in die groot wedstryd teen die einde van die toernooi te wees. Ons werk tans baie hard om die beste span te wees.”

Die 31-jarige speler was vroeër vanjaar vir die soveelste keer in die sop nadat hy vir Jack Clement met een van sy plettervatte disnis geduik het.

Dit is nie die eerste keer dat Farrell se têkkel-tegniek bevraagteken word nie.

Hy het in 2018 vir André Esterhuizen blatant met die skouer op Twickenham geloop sonder om sy arms te gebruik, terwyl hy in 2020 die 18-jarige Charlie Atkinson op ʼn uiters gevaarlike wyse platgetrek het.

“Hy probeer altyd om iemand hard te têkkel en hy doen dit gereeld hoog,” was Andy Goode, gewese Engeland-losskakel, se kommentaar.

Engeland se Wêreldbeker-groep:

Voorspelers: Dan Cole, Ellis Genge, Joe Marler, Bevan Rodd, Kyle Sinckler, Will Stuart, Theo Dan, Jamie George, Jack Walker, Ollie Chessum, Maro Itoje, David Ribbans, Tom Curry, Ben Earl, Courtney Lawes, Lewis Ludlam, George Martin, Billy Vunipola en Jack Willis.

Agterspelers: Danny Care, Ben Youngs, Jack van Poortvliet, Owen Farrell, George Ford, Marcus Smith, Max Malins, Anthony Watson, Elliot Daly, Ollie Lawrence, Joe Marchant, Manu Tuilagi, Henry Arundell en Freddie Steward.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.