White het nog ʼn Loftus-oorwinning in visier

Canan Moodie. (Foto: GB Jordaan)

Die Bulls het verlede naweek die eerste Suid-Afrikaanse span geword om met Ierse teenstanders in die jongste weergawe van die Verenigde Rugbykampioenskap af te reken toe hulle vir Connacht met 53 – 27 in Pretoria geklop het.

Nou het hulle nog ʼn goeie vertoning op hul tuisveld in hul visier wanneer daar vanmiddag kragte teen die Sharks op Loftus Versfeld gemeet word.

“Dit is ʼn opwindende tyd vir die Bulls en die spelers sien uit na die wedstryd. Ons het verlede week goed op ons tuisveld gespeel en ek hoop dat ons daarop kan voortbou,” het afrigter Jake White gesê.

“Dit beloof om ʼn hengse wedstryd te wees en jy wil bitter graag ʼn derby beklink”

Die Bulls kan op terugkerende Springbokke soos Willie le Roux, Kurt-Lee Arendse en Canan Moodie reken om die gevaarlike Sharks-agterlyn te tem.

“Ek is mal oor ʼn derby waar die beste spelers in Suid-Afrika teen mekaar speel. Selfs die jong manne – iemand soos Cameron Hanekom – is opgewonde om sy staal teen Eben Etzebeth, Ox Nche en die Sharks se agterlyn te wys.”

Sharks kies sterbelaaide span

Aphelele Fassi op pad na die doellyn. (Foto: Twitter.)

Die Sharks het ook ʼn sterbelaaide span gekies en die agterlyn van Aphelele Fassi, Aphiwe Dyantyi, Lukhanyo Am, Francois Venter, Curwin Bosch en Jaden Hendrikse het almal al vir die Springbokke uitgedraf.

Dan gaan Eben Etzebeth oudergewoonte vir die vuur voorlangs sorg, terwyl Ox Nche beslis ʼn impak van die plaasvervangersbank sal maak.

Die wedstryd begin om 15:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Bulls: Willie le Roux (heelagter), Kurt-Lee Arendse (regtervleuel), Stedman Gans (buitesenter), David Kriel (binnesenter), Canan Moodie (linkervleuel), Johan Goosen (losskakel), Embrose Papier (skrumskakel), Cameron Hanekom (agtsteman), Elrigh Louw (kaptein en flank), Marco van Staden (flank), Reinhardt Ludwig (slot), Janko Swanepoel (slot), Wilco Louw (stut), Akker van der Merwe (haker) en Gerhard Steenekamp (stut). Plaasvervangers: Simphiwe Matanzima, Jan-Hendrik Wessels, Mornay Smith, Deon Slabbert, Nizaam Carr, Zak Burger, Jaco van der Walt en Sebastian de Klerk.

Sharks: Aphelele Fassi (heelagter), Aphiwe Dyantyi (regtervleuel), Lukhanyo Am (kaptein en buitesenter), Francois Venter (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Curwin Bosch (losskakel), Jaden Hendrikse (skrumskakel), Sikhumbuzo Notshe (agtsteman), Phepsi Buthelezi (flank), James Venter (flank), Emile van Heerden (slot), Eben Etzebeth (slot), Coenie Oosthuizen (stut), Fez Mbatha (haker) en Ntuthuko Mchunu (stut). Plaasvervangers: Daniel Jooste, Ox Nche, Hanro Jacobs, Corné Rahl, Lappies Labuschagne, Grant Williams, Boeta Chamberlain en Rohan Janse van Rensburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.