Wie is rotsvas in die laaste vesting?

André Joubert (Twitter)

Dit was maar ʼn bitter pil vir enige Noord-Transvaalse ondersteuner om te sluk, maar wanneer dit by die Springbokspan gekom het, was almal dit eens: HO de Villiers se naam is eerste as heelagter uitgelees.

Vergeet van Lionel Wilson (Westelike Provinsie), Chris Luther (Noord-Transvaal) en Jannie van Deventer (Transvaal) – De Villiers het nie sy gelyke gehad nie.

Dis ʼn groot jammerte dat daar in die laat sestigerjare nog nie televisie was nie, hoewel ʼn paar van ons darem bevoorreg was om straks die beste Springbokheelagter van alle tye ʼn paar keer in aksie te sien.

Hy kon hardloop, systap, skop en têkkel, hy was die eerste heelagter wat  ʼn nuwe dimensie aan die no. 15-trui gegee het. Hy het geglo dat dit ʼn mors van tyd was om die bal uit te skop.

Baie lesers sal verskil en glo dat André Joubert, die Rolls Royce van heelagters, beter was.

Joubert was goed, baie goed, en hy het agt jaar lank tussen 1989 en 1997 in 34 toetse gespeel voordat hy halt geroep het.

Maar De Villiers kry my regmerkie.

Henry Oswald de Villiers, wat in 1945 in Norwood in Johannsburg gebore is, het aanvanklik in sy hoërskooldae vir Dale College in King William’s Town losskakel en senter gespeel, maar is later heelagter toe geskuif waar hy amok met sy avontuurlike spel gesaai het.

Hy het visie gehad en was nie bang om van sy eie doellyn af aan te val nie. Dit was ongekend in daardie dae, in die noorde is dit rugby-selfmoord genoem, want ʼn heelagter se plig was mos om die laaste vesting te verdedig en wanneer hy die bal ontvang het, uit te skop.

De Villiers het ná sy skooldae en opleiding in die vloot aan Ikeys in Kaapstad gestudeer toe hy by Wilson, wat saam met die Bokke in1965 deur Australië en Nieu-Seeland getoer het, by die Westelike Provinsie oorgeneem het.

Hy het binne ʼn seisoen of twee ʼn nuwe kultusfiguur op Nuweland geword.

Hy het sy Springbokbuiging in 1967 teen die Franse gemaak en het in net 14 toetse gespeel voordat sy loopbaan in 1970 weens ʼn rekonstruksie van sy knie kortgeknip is.

Sy wenpersentasie in ʼn Springboktrui was 67,58% en kon soveel beter gewees het as ʼn ernstige kniebesering aan die einde van die Bok-toer in 1969/’70 hom nie langs die kantlyn gedwing het nie.

Ian McCallum het die mantel by hom oorgeneem vir die reeks teen die All Blacks in 1970 en ʼn mens wonder steeds hoe De Villiers die All Blacks en die Wallabies in 1971 sou gemesmeraais het as hy nie uitgetree het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan Venter ·

Jy maak nou baie heimweë los … het daai jare ook heelagter gespeel, selle styl met baie visie, maar was agv gesondheid net beskore om paar maal op die veld te draf. Drome aan skerwe.

Naas ·

André Joubert was die Rolls Royce maar HO het heelagterspel vir altyd verander. Hy was ‘n baanbreker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.