Tekkies gaan weer by Monument klap

Foto: Smacpics

Dit is amper weer tyd vir die Springbok Vasbyt-wedloop wat vanjaar vir die 16de keer by die Voortrekkermonument in Pretoria aangebied word.

Volgens organiseerders is die wedloop reeds menigmaal op verskeie draf-forums as een van die land se beste wedlope aangewys.

Dit is ’n instelling op die sportkalender van die Jakarandastad en sinoniem met die verbyvlug van Harvard-gevegsvliegtuie en ’n oorverdowende kanonskoot wat die wegspring aankondig.

Foto: Verskaf.

Dan neem die historiese wedloop deelnemers verby landmerke soos die Ringmuur van die Voortrekkermonument, Fort Schanskop, die Amfiteater en die Muur van Herinnering.

Atlete sal met elke denkbare hardloopterrein te doen kry – van steil bulte tot skerp draaie en los klippe.

Die wedloop, wat deur die Voortrekkermonument Draf- en stapklub (in samewerking met AfriForum) aangebied word, poog jaarliks om hulde aan die gevalle helde van die Suid-Afrikaanse weermag te bring.

Vanjaar word die lewe van die wedloopstigter, Leon Bezuidenhout, herdenk. Hy is in Augustus 2020 onverwags oorlede en elke deelnemer sal ’n unieke Leon Bezuidenhout-medalje ontvang.

  • Datum: 16 Julie
  • Afstande: 21 km, 10 km en 5 km.
  • Wegspringtyd: 07:30 vir 21 km- en 10 km-wedlope, terwyl die pretdraf om 07:40 begin.
  • Inskrywingsgeld: R140 (21 km), R115 (10 km) en R60 (5 km).
  • Voorafinskrywing is ’n vereiste en aanlyn inskrywings kan by entryninja.com gedoen word en sluit op 10 Julie. Terselfdertyd kan daar ook tot 15 Julie by Run-away Sport in Lynnwoodweg en by die Monument se inligtingskantoor ingeskryf word.
  • Die wedloop is ’n groen wedloop en deelnemers word aangemoedig om hul eie waterbottels saam te bring.
  • Vir meer inligting besoek facebook.com/vtmklub of bel 064 582 6664.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.