Vandag se sportnuus

Gholf

  • Dié week se fokus is op die Glendower-gholfbaan in Ekurhuleni. Die 107de SA Ope begin môre wanneer verskeie topname sal afslaan. Dit sluit spelers in soos Mike Weir, Trevor Immelman en Charl Schwartzel wat almal al as Meesterskampioene gekroon was. Ernie Els, Retief Goosen en die Nedbank-uitdaagkampioen, Branden Grace, sal ook hul staal toon.

Seiljagvaart

  • In die vierde been van die Volvo Oseaan-wedvaart is die voorste seiljagte reeds by die Salomonseilande Dié been strek van Melbourne na Hongkong. Die voorloper is Vestas 11th Hour Racing terwyl die aanvanklike voorloper, Dongfeng, teruggesak het na die vierde plek.

Tennis

  • Die wêreld se topspeler, Rafael Nadal, het sy eerste wedstryd van die jaar met 6-4 en 7-5 teen Richard Gasquet verloor. Nadal is egter baie ingenome met die feit dat sy beseerde knie die wedstryd sonder enige probleme kon deurstaan. Die Aussie Ope begin Maandag in Melbourne.
  • Nog tennisnuus is dat die verdedigende kampioen, Johanna Konta, in die eerste ronde van die Sydney Internasionale Toernooi uitgeskakel is. Agnieszka Radwanska het haar met 6-3 en 7-5 geklop. Venus Williams is deur Angelique Kerber uitgeskakel.

Krieket

  • Die tweede toets tussen Suid-Afrika en Indië begin komende Saterdag op Supersport Park in Centurion. Suid-Afrika het die eerste toets met 72 lopies gewen.
  • Intussen beklee Kagiso Rabada die topposisie op die ranglys van toetsboulers in die wêreld. Vernon Philander is die sesde beste bouler en vyfde onder die veelsydige spelers. Hashim Amla is die tiende beste kolwer.
  • Ben Stokes, wat wag om te hoor of hy vervolg gaan word ná ʼn kroegonderonsie, is opgeneem in Engeland se T20-span teen die Aussies. Engeland is onder geweldige druk nadat hulle die toetsreeks teen Australië met 4-0 verloor het. Die eerste van vyf Eendagwedstryde begin Sondag. Die T20-wedstryde word eers in Februarie gespeel.
  • Ricky Ponting is intussen aangestel as die hulpafrigter van die Aussies se T20-span vir die reeks teen Engeland en Nieu-Seeland.
  • Nieu-Seeland en Pakistan het gister in hul tweede Eendagwedstryd teen mekaar gespeel.

Pakistan 246/9 (50 bb)

Nieu-Seeland 151/2 (23.5/25 bb, teiken was 151), Martin Guptill het 86 lopies bygedra.

Nieu-Seeland wen met 8 paaltjies met 7 balle oor (D/L-metode).

  • In die Momentum-eendagreeks is een wedstryd gister afgehandel.

Kimberley

Warriors 335/9 (50 bb)

Knights 275 (49.1/50 bb)

Warriors wen met 60 lopies.

  • Vandag om 13:30 speel die Cape Cobras teen die Dolphins in die Paarl.

Motorwedrenne

Die 2018-Dakartydren se vierde skof is gister beslis. Peugeot het die skof oorheers met Sébastien Loeb wat die eerste plek ingeneem het. Die verdedigende kampioen in die motorfietsafdeling, Sam Sunderland, se wedren is oor nadat hy beseer is tydens ʼn ongeluk en per helikopter vervoer moes word.

Geniel de Villers kon net 17de eindig in die skof oor 444 km. Robert Howie van Suid-Afrika was sewende.

Rugby

  • Die Bulls sal in vier voorseisoen-wedstryde betrokke wees voor vanjaar se Superrugby-reeks. Afgesien van hul wedstryde teen die Sharks, Lions en Stormers sal hulle ook nou op 10 Februarie teen die Jaguares op Loftus speel.

Sokker

  • In die Plaaslike Premierliga

is daar gisteraand een wedstryd gespeel.

Mamelodi Sundowns het vir Ajax van Kaapstad met 2-1 geklop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.