Vandag se sportnuus

(Foto: Eugene Hoshiko, AP)

Olimpiese Spele

  • Daar is lig aan die einde van die Olimpiese tonnel.

Volgens die New York Times kyk organiseerders na 23 Julie 2021 as die nuwe datum vir die internasionale sportskouspel.

Die Spele in Tokio is verlede week weens die Covid-19-pandemie vir die eerste keer sedert die Tweede Wêreldoorlog afgelas. Vreemd genoeg sou die 1940-weergawe van die Spele óók in Japan aangebied word.

Die Olimpiese vlam sal egter in Tokio tot die amptelike aanvang in 2021 bly brand; ’n simbool van hoop vir alle atlete en sportgeesdriftiges.

Rugby

  • In Nieu-Seeland is alle plaaslike rugby tot die Mitre 10-bekergeleentheid gekanselleer.

Die kompetisies wat in die slag gebly het, sluit die Jock Hobbs-o.19-toernooi en die nasionale seweskampioenskap in.

Volgens Nieu-Seeland Rugby se uitvoerende hoof, Mark Robinson, is dié moeilike besluite in belang van rugby geneem.

“Dit is onwerklik hoe alles binne net sewe dae verander het en ons moes daadwerklik optree. Ons staan saam en het een doel voor oë: Dit is om die toekoms van rugby te verseker,” het hy gesê.

Krieket

  • In krieketnuus het die voormalige Protea-draaier, Dane Piedt, die Kaap vir Amerika verlaat.

Die 30-jarige Piedt gaan in die Minor Cricket League se T20-toernooi speel en hy sal graag vir die Amerikaanse internasionale span wil kwalifiseer.

Hy het 26 paaltjies in nege toetse teen ’n gemiddeld van 45,19 geneem. In eersterangse krieket het hy 409 paaltjies laat kantel teen ’n beter gemiddeld van net meer as 32 lopies per paaltjie.

Nóg ’n voormalige Protea, die snelbouler Rusty Theron, bly al vir ’n paar jaar in die VSA en het verlede jaar sy eendagbuiging vir sy aangenome land gemaak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.