Vandag se sportnuus

Kevin Pietersen. Foto: Twitter.

Krieket:

  • Een van die talentvolste spelers in die hedendaagse era, Kevin Pietersen, het sy eie YouTube-kanaal begin.

Hy het reeds ’n rits volgelinge en hy het ’n video van homself opgelaai waar hy destyds ’n boulmasjien trotseer terwyl hy geblinddoek is.

‘KP’ het die boulmasjien-operateur gevra om vinnig ’n bal deur te voer sodat hy die geluid wat die aflewering maak kan hoor. Hoewel dié aflewering hom effens onverhoeds betrap het, het hy die daaropvolgende aflewerings vir reuse-sesse geslaan. Hy het selfs sy kenmerkende omkeer-hou (switch hit) uitgestal.

Pietersen is in Suid-Afrika gebore en het aan Maritzburg College gematrikuleer, maar hy het uiteindelik in 104 toetse vir Engeland gespeel en meer as 8 000 lopies aangeteken.

Hokkie:

  • In ’n verklaring het SA Hokkie gesê dat alle oorblywende skoolhokkie-gebeure weens die Covid-19-pandemie vir die res van die jaar afgelas word.

Boland het reeds aangedui dat hulle geen nasionale toernooi weens die afsonderingstydperk en die onsekere toekoms sal kan aanbied nie.

Volgens die beheerliggaam sal dit onrealisties wees om enige SA Skole-geleenthede aan te bied. Wanneer die skole in die toekoms weer heropen, sal die fokus op die leerlinge se akademiese werk moet wees.

Sokker:

  • Volgens die sokkerspeler-unie, FIFPRO, sukkel al hoe meer spelers met depressie weens die Covid-19-pandemie.

“Jong spelers moet skielik sosiale afsondering en ’n opskorting van hul werkslewe hanteer, terwyl hulle toekoms as professionele spelers ook onseker is,” het die unie se mediese hoof, Vincent Gouttebarge, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.