Vandag se sportnuus

Rory McIlroy Foto: News Limited

Gholf:

  • Eers was daar UFC-gevegte en nou was daar regstreekse gholfaksie op die kassie.

Die wêreld se voorste gholfspeler, Rory McIlroy, het saam met Dustin Johnson vir Rickie Fowler en Matthew Wolff in ’n liefdadigheid-tweestryd in Florida getroef.

Dit was die eerste regstreekse gholfaksie in die Covid-19-era en meer as $5,5 miljoen is ingesamel.

Eerskomende Sondag sal Tiger Woods en Phil Mickelson saam met Tom Brady en Peyton Manning (Amerikaanse voetbalsterre) in nóg ’n liefdadigheidsinisiatief speel.

Die aksie sal weer eens op SuperSport uitgesaai word.

Rugby:

  • Beauden Barrett het skaars by die Blues begin oefen of hy het ’n fiksheidsrekord agter sy naam.

Die voormalige Hurricanes-ster het die moordende Bronco-fiksheidstoets in ’n nuwe rekordtyd voltooi. Spelers moet lopies van 20 m, 40 m en 60 m vyf keer herhaal.

Die 28-jarige Barrett het die toets in ’n tyd van 4:12 voltooi.

  • Volgens mediaberigte stel die Stormers in die dienste van die Springbok-heelagter Warrick Gelant belang.

Met Dillyn Leyds (La Rochelle) en Jean-Luc du Plessis (Honda Heat) wat kontrakte met oorsese klubs gesluit het, is die Kapenaars ietwat broos op heelagter.

Die 25-jarige Gelant het sy skoolloopbaan aan Hoërskool Outeniqua in George voltooi, maar is direk ná skool Pretoria toe.

Jake White, die Bulls se nuwe direkteur van rugby, wil egter vir Gelant by die Bulls hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.